OUDTSHOORN NUUS - Jay-Dee Klue (22) wat Dinsdagmiddag, 19 Augustus, op sy verjaarsdag, in 'n motorfietsongeluk omgekom het, se familie is verslae oor sy dood.
"Hy was die jongste van vier kinders, maar het hom soos die oudste gedra."
As ons 'n probleem gehad het of hulp nodig gehad het, het ons hom eerste gebel," vertel sy susters, Lyndi-Zanne Klue en Chane Smit.
"Hy was altyd bereid om te help, lief vir die lewe en hy het groot drome gehad. Hy was ook op pad om verder te studeer."
Jay-Dee, wat saam met sy pa, Rassie, by CG Spares & Scrapyard gewerk het, het glo parte gaan aflaai toe die ongeluk gebeur het.
Volgens inligting het Jay-Dee met sy motorfiets in Kerkstraat in die rigting van die dorp gery toe 'n vragmotor glo 'n stopstraat in Randstraat verontagsaam en die pad gekruis het. Mediese personeel het hom op die toneel dood verklaar.
Nooddienste en polisie op die toneel op die kruising van Kerk- en Randstraat waar die ongeluk gebeur het. Foto's: Liezl van Niekerk
Die bestuurder van die vragmotor het aanvanklik van die toneel gevlug, maar hom later glo by die Bongolethu-polisiestasie oorgegee. Die 33-jarige man het Woensdag 20 Augustus in die Oudtshoorn-landdroshof op 'n aanklag van strafbare manslag verskyn.
Hy is op borgtog van R500 vrygelaat en verskyn weer op 29 September in die hof.
Rassie Klue op die toneel waar sy seun gesterf het.
Lt.kol. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, het bevestig dat 'n saak van strafbare manslag ondersoek word. "Die omstandighede rondom die voorval vorm deel van 'n voortgesette ondersoek," het hy gesê.
Chane vertel dat Jay-Dee 'n besondere band met haar twee dogtertjies gehad het.
"Hy was mal oor hulle. Hulle was sy trots en hy het altyd ure met hulle gespeel," sê Chane.
Volgens Lyndi-Zanne het Jay-Dee en sy meisie, Jean-Mari Henning, planne gemaak om binnekort saam in te trek.
"Sy was die koningin van sy hart. Hierdie is 'n verpletterende verlies vir ons. Hy was my pa se enigste seun. Hulle het elke dag saam werk toe gery. Vanoggend toe my pa die bakkie uittrek, het hy besef my boetie gaan nie weer by die deur uitstap nie. Dit was vir hom bitter swaar," vertel Lyndi-Zanne.
Rassie moes ook Dinsdag sy seun op die toneel ïdentifiseer.
Behalwe vir sy pa en twee susters, laat hy ook sy ma, Magda, en oudste suster, Marelize, agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’