OUDTSHOORN NUUS - "Hy was my staatmaker en die een op wie se nommer ek kon druk as ek hulp nodig gehad het."
So sê Cathrine Saptou, die ma van Dueron Saptou (27), wat Saterdag na 'n motorfietsongeluk in Langenhovenweg gesterf het.
Saptou sê haar seun het 'n vol lewe gehad.
"Hy was nie bang om iets aan te pak nie. As hy iets wou doen het hy. Hy het 'n motorfiets van sy eie gehad en hy was mal daaroor om met die motorfiets te ry. Die motorfiets waarmee hy die ongeluk gehad het was egter 'n vriend s'n."
Dueron was Saterdag omstreeks 11:00 met Langenhovenweg in die rigting van George onderweg toe hy beheer oor die kragtige 900cc Honda CBR verloor het en 'n lamppaal getref het. Die motorfiets het ongeveer 20 m met die pad langs geskuur en voor die Hyundai-agentskap 'n geparkeerde bakkie se wiel getref en tot stilstand gekom. Dueron is met enrstige inwendige beserings hospitaal toe geneem waar hy ongeveer twee ure later beswyk het.
Die vriend, aan wie die motorfiets behoort, Shahid Endeley, het gesê Dueron was sy beste vriend.
"Hy was maar net altyd daar vir als. As mens raad nodig gehad het of onseker was of net 'n oor wou hê, was hy die een met wie jy gepraat het. Ons het als saam gedoen."
Dueron is die pa van drie kinders. Sy oudste seun is drie en sy tweeling-dogters is een maand oud.
Hy laat sy ma, drie kinders, broers Justin Booysen (30) en Pieter-John Booysen (14), susters Themoré Saptou en Loésha Saptou en ouma, Eva Block agter.
Dueron word volgende Saterdag (24 Augustus) vanuit die Christelike Herlewing-kerk begrawe. Roudienste by die huis in Tulipstraat begin volgende Maandag.
Die motorfiets waarmee Dueron in die ongeluk betrokke was.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'