DYSSELSDORP NUUS - ‘n 27-jarige man is in hegtenis geneem na die moord op Ruwaan Kennedy (20) die afgelope naweek.
Die voorval het Saterdag in die vroeë oggendure in Dysselsdorp gebeur.
‘n Vriend van Ruwaan wat Vrydagaand saam met hom was, het aan die Oudtshoorn Courant vertel hulle het Vrydagaand bietjie gaan kuier. Die voorval het op pad terug huis toe gebeur.
"Ek en Ruwaan en nog 'n vriendin het gaan kuier en 'n meisie wat ons nie ken nie het heeltyd tussen ons kom dans. Ons het op 'n ander plek gaan dans, maar sy het elke keer weer terug gekom. Ons het toe maar later geloop en toe kom die meisie agterna en wil baklei.
"Sy het aan Ruwaan begin slaan en hy het met haar gepraat en gevra hoekom sy wil baklei. 'n Ander man het toe nader gestap en toe gooi hy Ruwaan met 'n klip. Ruwaan het vir hom gesê hulle moet sê wat fout is dat ons die probleem kon uitsorteer, maar toe ruk die man 'n mes uit en begin na Ruwaan steek.
"Hy het vyf keer na hom gesteek en die vyfde keer toe steek hom in die borskas raak. Na hy Ruwaan gesteek het, het hy ook na ons gesteek met die mes. Hy was aggressief en hy wou iemand steek."
Die vriend het na die voorval Ruwaan se familie by die huis gaan haal waar hulle hom reeds dood aangetref het.
Die familie van Ruwaan Kennedy.
Fredricka Otto, ouma van Ruwaan sê niemand het die reg gehad om hom op so ‘n wrede manier uit die lewe te neem nie.
"Hy het groot drome vir sy toekoms gehad. Hy wou iets van sy lewe maak en toe kom iemand en neem dit weg, nie net van hom af nie, maar van sy familie ook."
Lees die volledige berig in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'