OUDTSHOORN NUUS - Danksy die vinnige optrede van die polisie is sewe mense in hegtenis geneem na die moord op 'n 19-jarige man die afgelope naweek.
Anthony Wessels is voor sy huis is Rose Valley in die nuwe uitbreiding doodgesteek. Volgens sy ma, Natasha Wessels, weet sy nie wat Saterdagaand gebeur het nie, maar weet sy dat haar jongste seun, Diego, om hulp geroep het buite die huis. Anthony, of Tommie soos hy in die gemeenskap bekendgestaan het, het uitgehardloop om sy broer te help en is, volgens sy ma, deur die groep mans aangeval.
"Hy moes homself teen 'n hele groep mense verdedig. Dit is mos nie reg nie," het sy gesê.
Volgens haar is sy bly dat die polisie vinnig kon optree om die verdagtes in hegtenis te neem.
Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.
Tamson Leeuw, een van die Wesselse se buurmense, vertel dat sy die bakleiery sien gebeur het.
"Ek het gesien hoe die een groep jong mans die ander jaag. Dit het so 22:30 gebeur. Hulle het Diego gejaag en klippe gegooi. Toe ek dit sien het ek die polisie en die wetstoepassers gebel, maar niemand het geantwoord nie. Ek het aanhou bel. Diego het sy broer geroep en Tommie het uitgehardloop gesê hulle moet ophou baklei. Die volgende oomblik toe sak Tommie inmekaar."
Leeuw sê bure het haar gevra vir hulp omdat sy bietjie kennis het van noodhulp.
"Ek het gedoen wat ek kon met die bietjie kennis wat ek het, maar dit was te laat. Ek het nie gedink hy gaan dit maak nie. Net voor 23:00 is hy oorlede."
Verdagtes se ouers praat
Die ouers van die verdagtes wat in hegtenis geneem is vir Wessels se moord, het Maandag gesê dat hulle interdikte moes bekom om hulle en hul kinders na die voorval die naweek te beskerm.
Volgens die ouers het hulle kinders hulself probeer verdedig.
"Hulle is 'n groep wat kwaad doen in Rose Valley waarvan Tommie ongelukkig deel was. Hulle het met ons kinders kom moeilikheid soek en hulle het hulself probeer verdedig. Die groep jong mans waarmee ons kinders baklei het loop met wapens rond. Tommie is ongelukkig noodlottig gewond. Ons kry sy familie regtig jammer. Daar is nou van Tommie se groep wat ons en ons kinders dreig en ons moes vandag (Maandag) interdikte kry om hulle te beskerm. Die kinders wil nie eers skool toe gaan nie." Die verdagtes moet op 23 Oktober weer in die hof verskyn.
So sê die polisie
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die moord Saterdagaand plaasgevind.
"Beamptes het Saterdag 14 September omstreeks 23:00 op 'n toneel in Rose Valley in Oudtshoorn gereageer. Met hul aankoms het hulle 'n man met 'n steekwond aan die bors gevind. Hy is later deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Die ondersoek het gelei tot die arrestasie van die sewe mans tussen die ouderdomme van 18 en 28. Die verdagtes bly in aanhouding en sal in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn sodra hulle aangekla word."
Die motief vir die moord moet nog vasgestel word en vorm deel van 'n voortgesette polisieondersoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’