Update
OUDTSHOORN NUUS - Die familie van 'n belowende jong rugbyspeler wat Vrydagaand deur 'n motor doodgery is, het eers Sondag die ontstellende nuus gekry.
Willon Lucas (17) is Vrydagaand op die toneel dood toe hy naby Supa Quick deur 'n motor getref is terwyl hy die pad oorgesteek het. Die polisie het Saterdagoggend 'n beskrywing van hom verskaf aangesien hy nie 'n identiteitsdokument by hom gehad het nie.
Volgens sy tannie, Agnes Maarman, was hy Vrydagaand na vriende toe en sou hy die aand by 'n familielid oorslaap, maar hy het nooit sy bestemming bereik nie.
"Saterdagoggend het die familielid gevra of Willon by ons is, want hy het nooit by hulle opgedaag nie. Ons het oral na hom gesoek. Ons het die hospitale en sy vriende gebel, maar niemand het geweet waar hy was nie. Ons het Sondag 'n draai by die polisie gaan maak en te danke aan 'n skoolmaat van Willon wat sy foto aan 'n speurder gewys het, het hulle ons Sondagmiddag gekontak. Die polisie het gesê daar is Vrydagaand 'n persoon doodgery, maar hulle het nie geweet dit is Willon nie omdat die persoon ouer as 17 gelyk het."
Volgens Lucas se suster, Roseline Geswindt, het die familie Sondag met mense wat Vrydagaand op die toneel was, gesels.
"Willon het van Supa Quick se kant af oor die pad gestap. Hy was glo amper by die middelmannetjie toe die voertuig van die dorp se kant af aankom. Die kar het hom getref en Willon het 'n entjie deur die lug getrek en toe ry die kar bo-oor hom."
Geswindt sê 'n bakkie het in die ander baan gestop om te verhoed dat ander voertuie bo-oor Lucas ry.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê die bestuurder van die voertuig het nie van die toneel af weggery nie.
"Niemand is in hegtenis geneem nie, maar 'n klag van strafbare manslag word ondersoek."
Die toneel Vrydagaand in Voortrekkerweg waar Willon Lucas doodgery is. Foto: Ebenezer Titus
Willon, die rugbyster
Loma-Dean Samuels, Lucas se tannie, het Lucas as 'n sportster en 'n passievolle kind beskryf.
"Sy bynaam was Power. Die kind was sterk en vinnig en kon enige posisie op die rugbyveld speel. Hy het vir Môrester se o.19 A-span gespeel en was só trots daarop."
Volgens haar sou Lucas op 18 Augustus 18 jaar oud word en ook as deel van die skool se Sewesrugbyspan op die veld uitdraf.
"Hy het so daarna uitgesien. Ons het al sy partytjie ook beplan. Dit sou vir hom 'n baie groot dag gewees het," vertel Geswindt.
Lucas se pa is oorlede toe hy net drie jaar oud was en volgens sy suster en ma, Dina Lucas, die man in die huis.
Hy word oorleef deur sy ma, twee broers en 'n suster.
Lucas word Saterdag 11:00 vanuit die AGS in Toekomsrus begrawe. Daar sal om 10:00 'n diens by die familiehuis in Jonkerstraat gehou word.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'