OUDTSHOORN NUUS - Plaaslike jeug gaan tydens die eerste jeugteatervertoning, by die SANW-ouditorium AK47-aanpassingsklas op die planke bring. Dié opvoering vind plaas op 27 en 28 September.
Leerders van Fezekile Sekondêr, Langenhoven Gimnasium, Dysselsdorp Sekondêr en Bridgton Sekondêr vorm deel van die vertoning.
AK47-aanpassingsklas was maande se werk en toewyding en is op die been gebring deur Ricardo Arendse, Lee-Ann van Rooi en Bianca Flanders-Balie. Hulle het met die onderskeie skole gewerk om onderwysers en leerders op te lei in die vier pilare van teater naamlik: Storie, ontwerp, direksie en opvoering.
Die program se visie is om teater as 'n hulpmiddel te gebruik vir leer, selfuitdrukking en gemeenskapsbetrokkenheid.
"Die leerders het hard gewerk en die vertoning is 'n feesviering van hulle talent, dissipline en verbeelding," noem Arendse. "Dit is ook 'n geleentheid vir die gemeenskap om saam te kom en om die krag van teater, gemaak vir en deur die jeug van Oudtshoorn, te aanskou."
Elke skool het 500 kaartjies ontvang om te verkoop en word besighede, inwoners en die jeug uitgenooi om die inisiatief te ondersteun deur 'n R50-kaartjie te koop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’