Volgens Elrico van Rooyen, hoof uitvoerende beampte van Suff wat die programme saam met die Youth Café doen, val Jeugmaand in Junie en is dit belangrik om die jeug te help bemagtig omdat die jeug van vandag die land se toekoms is.
Een van die programme wat van stapel ge-stuur gaan word is die Before I die-veldtog.
"Dit is 'n program wat ons graag by skole wil doen. Ons gaan mure by ondermeer van die hoërskool hê en ook binne in die Youth Café self waar jeugdiges hul drome en dit wat hulle graag wil bereik voor hul dood, anoniem kan neerskryf. As die projek goed verloop hoop ons om ook sulke mure in die dorp te hê. Die doel hiermee is om die kinders oor hul toekoms te laat dink sodat hulle gemotiveer kan wees om iets van hul lewe na skool te maak," verduidelik hy.
Die program saamlopend met die werkgereedheidsprogram wat hulle by die skole aanbied.
"Ons wil dit 'n volhoubare program maak sodat dit nie net skielik ophou nie, maar sodat die jeug deurlopend aan hul drome kan werk en gereed kan wees wanneer hulle uiteindelik vir werk aansoek doen."
Die entrepreneurskapkompetisie is vanaf 1 tot 30 Junie.
"Hier kry ons 10 jeugdiges wat besigheidsplanne aan ons gaan voorlê. Daar gaan 'n entrepreneurskapkursus vir hulle aangebied word sodat hulle teen die einde van die kursus hul eie besigheid kan begin. Die kursus doen ons in samewerking met Seda en die wenner van die kompetisie sal dan hulp kry om sy of haar eie besigheid van die grond af te bring."
Kunsprogramme wat visuele kunste, dans en drama insluit sowel as 'n Oudtshoorn Got Talent-kompetisie maak deel uit van die jeugprogram.
Vir meer inligting oor die programme besoek Youth Café of Suff Academy - Film + Media & Arts se Facebook-blaaie.