Update
OUDTSHOORN NUUS - Drie skoolmeisies is Woensdagmiddag lig beseer na die voertuig waarmee hulle gery het in Arnold de Jagerrylaan omgeslaan het.
Sover vasgestel kon word is hulle leerders van Hoërskool Oudtshoorn en het hulle vermoedelik van 'n atletiekbyeenkoms af gekom.
Die bestuurder van die voertuig het op die draai naby Wescott Park beheer oor die voertuig verloor toe die motor se agterwiel die sypaadjie getref het.
Die motor het omgeslaan en oor die pad geskuur.
Die bestuurder en twee van haar passasiers is vir geringe beserings op die toneel behandel en daarna hospitaal toe geneem vir waarneming.
Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant op die toneel was die insittendes van die voertuig reeds in die ambulans.
Volgens 'n woordvoerder van ER24 het hulle drie pasiënte met ligte beserings hospitaal toe geneem.
Nooddienswerkers sowel as die leerders se ouers was vinnig op die toneel.
Volgens kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die verkeersbeamptes op die toneel 'n boete uitgereik omdat die bestuurder sonder 'n geldige rybewys bestuur het.
Lees 'n vorige artikel: Ongleuk in Arnold de Jagerrylaan
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'