OUDTSHOORN NUUS - Meer as 50 jongmense het verlede Vrydag Bridgton-kliniek se jeugsone-geleentheid bygewoon.
Dit is een van vier geleenthede wat vir Juniemaand beplan is.
"Ons is opgewonde om hierdie geleentheid aan te bied en sal dit weer op 9, 23 en 30 Junie vanaf 14:00 die middag doen. Ons bied speletjies, toneelstukke en praatjies vir die jeug aan. Saam met ander belanghebbendes wil on,s ons jeug mobiliseer om ingeligte keuses te maak wanneer dit by hul gesondheid en welstand kom,” het gesondheidsbevorderaar, Eshida May, gesê.
Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement in die Suid-Kaap het gesê adolessensie kan 'n opwindende en oorweldigende tyd wees in 'tieners se hul ouers se lewe.
"Wat ook al die uitdagings gedurende hierdie tydperk mag wees, die Wes-Kaapse Regering Gesondheid en Welstand deel 'n doelwit met ouers om te verseker dat elke jongmens die gesondheidsorg kry wat hulle nodig het om hul beste, gesondste en langste lewe te lei"
Volgens Ferreira het onlangse statistieke getoon dat 13,5% van geboortes in gesondheidsfasiliteite in die Tuinroete vanaf die ouderdomsgroep van 10 tot 19 jaar oud was.
"Ons is bekommerd oor die aantal tienerswangerskappe onder ons jong meisies. Ons wil hê hulle moet ingeligte besluite neem. Daar is verskeie voorbehoedmetodes by gesondheidsorgfasiliteite beskikbaar om onbeplande swangerskappe te vermy. Een daarvan is noodkontrasepsie wat binne vyf dae ná onbeskermde seks geneem moet word om 'n onbeplande swangerskap te vermy. Moet asseblief nie huiwer om die kliniek te besoek nie. Die kliniek bied toegewyde dienste vanaf 14:00 die middag om dit meer toeganklik vir die jeug te maak. Onthou, gesondheidsorgwerkers sal die rede vir jou besoek vertroulik hou,” het May gesê.
Diegene wat wel swanger raak, moet so gou moontlik hul plaaslike kliniek besoek om die swangerskap te bevestig en met hul voorgeboortesorg te begin. Dit sluit afsprake in om na die gesondheid en welstand van ma en baba te kyk.
Jeug het 'n ondersteunende omgewing nodig wat hul algemene gesondheid beskerm, insluitend hul geestesgesondheid.
"As jy tuis of by die skool oorweldig voel, kan jy met 'n vertroude familielid, onderwyser of skoolberader of verpleegster praat vir ondersteuning. Jy kan ook toegang tot geestesgesondheidsorg by jou naaste kliniek kry waar 'n opgeleide gesondheidspraktisyn ondersteuning sal verskaf of jou na 'n geestesgesondheidspraktisyn sal verwys."
Wes-Kaapse Regering Gesondheid en Welstand werk ook saam met ander organisasies – een daarvan is die NPO LoveLife (Lovelife) wat ondersteuning bied aan tieners by skole en klinieke in die provinsie.
Jeug het ook toegang tot waardevolle inligting van die B-Wise-program. Die webwerf is maklik om per telefoon of rekenaar te navigeer, en verskaf inligting oor geestesgesondheid, tienerswangerskap, gesinsbeplanning en SOI's. Besoek gerus :bwisehealth.com vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’