Gallery
CALITZDORP NUUS - Die appelkooskonfytkook-marathon wat jaarliks in Calitzdorp plaasvind het Saterdag meer as 1 000 botteltjies konfyt opgelewer.
Dit was die vyfde agtereenvolgende jaar wat die marathon plaasgevind het.
Volgens Erina Meiring, Calitzdorp se toerismebestuurder, kon hulle verlede jaar weens die droogte net 430 botteltjies konfyt kook.
"Ons het regtig 'n fantastiese marathon gehad. Ons het reeds Vrydagaand begin deur die 350 kg appelkose te ontpit en in die potte met suiker te sit en Saterdagoggend het die spanne al 07:00 begin kook. Die spanne het eers na 17:00 klaargemaak."
Meiring sê die hulp van die gemeenskap was ongelooflik.
Fotogalery: Calitzdorp appelkooskonfytkook-marathon
"Daar was so baie mense wat kom help het. Een van die inwoners het selfs 'n kitaar gebring en vir ons kom sing. Die gees van die marathon maak als die moeitewerd."
Volgens Meiring gaan die fondse wat uit die verkoop van die konfyt gegenereer word vir die gemeenskapskas.
"Die gemeenskapskas word gebruik vir projekte binne Calitzdorp soos ontwikkeling. Ons kon byvoorbeeld vanjaar vir die top 20 leerder van die vier skole op Calitzdorp 'n spesiale ete hou met die gelde uit kas."
Saterdag se verrigtinge het egter nie net oor die marathon gegaan nie.
'n Groot klomp mense het oudergewoonte ook appelkose by De Krans gepluk om hul eie konfyt mee te kook. Daar was ook 'n mark vir besoekers om te geniet.
Daar was ook onder meer 'n historiese staproete en draadkarresies.
Meiring sê te spyte van die Covid-pandemie was Saterdag goed ondersteun.
"Ons het baie minder mense verwag. Ons is baie dankbaar vir almal wat die dag ondersteun het."
Meiring sê die hulp van die gemeenskap was ongelooflik. Foto: Corleen Barnard
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'