OUDTSHOORN NUUS - Die afgelope paar weke was daar verskeie betogings by persele waar kontrakteurs stormwaterslote in Bridgton en Bongolethu opgradeer.
Die betogers is lede van die gemeenskap wat skynbaar ontevrede is oor die wyse waarop subkontrakteurs tydelike werkers aangestel het.
Die jongste voorval was Dinsdag in Dassieweg waar twee kontrakteurs met werkspanne besig is.
'n Groep inwoners van wyk 5 het probeer om die werk aan die stormwaterslote te ontwrig deur sakkies sement stukkend te steek en takke langs die pad te brand.
Volgens die inwoners is die sub-kontrakteur veronderstel om twee weekliks 10 nuwe werkers aan te stel, maar in dié geval het dit nie gebeur nie.
Volgens Hessie Maxim, die betrokke subkontrakteur, het sy 20 mense wat onder haar werk.
"Ek werk met 10 permanente werkers en 10 tydelike werkers. Elke twee weke word daar 10 nuwe werkers uit dié wyk aangestel. Ek werk al drie weke in Dassieweg aan die stormwaterslote.
"Soms sal daar van die permanente werkers wees wat ander werk kry en dan stel ek een van die tydelike werkers aan wat ek sien die werk regtig wil doen."
Volgens die betogers werk dit egter nie so nie en word dieselfde persone aanmekaar gekies om die tydelik werk te doen.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, word die projekte aan verskillende kontrakteurs toegeken wat aangestel is deur 'n formele tender en SCM-proses.
"Die betogings het meeste van tyd niks met die projek te doen nie en meer met werksgeleenthede wat die gemeenskap soek vanaf enige kontrakteur wat aangestel is."
Volgens hom behels die projek die opgradering van die bestaande stormwaterstelsels vir die Groter-Oudtshoorn, insluitende Dysselsdorp en De Rust.
"Die projekte loop hand-aan-hand met die munisipale begroting,
1 Julie 2017 tot 30 Junie 2018. Die spesifieke kontrak vir werk op die stormwaterslote het einde Oktober 2017 begin. Die formele tender, SCM 11/2017, behels 'n paneel van 10 hoofkontrakteurs.
"Die ander 40 kontrakteurs wat dan ook getender het maak dan 'n lys van subkontrakteurs. Maandelikse vergaderings word gehou met kontrakteurs in die verband. Subkontrakteurs wat in die wyk woon waar die projek geskied kry voorkeur.
"Daar word ook probeer om soveel as moontlike subkontrakteurs 'n geleentheid te gun. Plaaslike arbeid is ook 'n vereiste vir alle kontrakteurs. Sedert Oktober was daar reeds 10 hoof-kontrakteurs,, asook 37 subkontrakteurs op verskillende projekte aangestel.
"'n Beraamde totaal van R2,6 miljoen is reeds uitbetaal aan plaaslike subkontrakteurs van Oktober 2017 to Maart 2018. Dit help met plaaslike werkskepping en hou ook sodoende geld in die dorp," het hy verduidelik.
Volgens Mangqwengqwe werk alle subkonktrakteurs direk vir die hoofkontrakteurs en het hulle geen kontrak of verbinding met die munisipaliteit nie.
Hy het verder gesê dat die hoeveelheid mense wat deur 'n kontrakteur aangestel word, bepaal word deur die grootte van die projek.
"Elke projek word op sy eie meriete geëvalueer en die kontrakteurs besluit hoeveel werkers benodig word."
Lees 'n vorige artikel en kyk 'n video: Protesoptrede in Wyk 8
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'