OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep inwoners van GG-kamp, wyksraadslid Laurington Stone en verskeie vrywilligers van Trapsuutjies-projekte, het verlede Woensdagoggend moue opgerol om te help met die maandelikse skoonmaakprojek van Trapsuutjies se #trashtag in GG-kamp.
Die skoonmaakprojek word maandeliks in samewerking met die Oudtshoorn-munisipaliteit en CapeNature gedoen en daar word elke keer op 'n ander gebied gefokus.
In Augustus vanjaar het twee inwoners van dié nedersetting, Micheal Claasen en Edward Jansen, uit hul eie besluit om 'n verskil in hul gemeenskap te maak en het sonder enige skoonmaakgereedskap of handskoene begin om die vullis op te tel.Trapsuutjies het dié week ingespring en hulle gehelp om hul omgewing skoon te maak.
Jansen het Woensdag aan die Oudtshoorn Courant gesê dit is vir hom verblywend om te sien hoe baie inwoners van GG-kamp aan die projek deelgeneem het.
"Dit wys daar is nog mense wat omgee oor hul omgewing. Wat my die blyste maak is die kinders wat ook kom help het. Hulle sien wat grootmense doen en volg eenvoudig net die voorbeeld."
Inwoners van GG-kamp wat vrywillig skoon gemaak het.
Jansen het ook gesê dat hy met sy skoonmaakwerk gaan aanhou omdat hy wil aanhou om 'n voorbeed vir die res van Oudtshoorn te stel.
Susan Botha van Trapsuutjies sê die skoonmaakprojekte gaan nie so seer oor die skoonmaak soos oor die bewusmaking wat geskep word nie.
"Mense sien hoe netjies dit lyk as daar skoongemaak is en baie mense probeer om minder gemors rond te gooi. Die mense wat betrokke is sien ook watter gemors gestrooi word en wat die impak daarvan is."
Edward Jansen wat in Augustus reeds in GG-kamp begin skoonmaak het. Foto's: Liezl van Niekerk
Raadslid Laurington Stone.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'