KAROO NUUS - 'n Onlangse insident, waar 'n bejaarde vrou 'n beroerte in Calitzdorp gehad het, het die fokus op die tekort aan ambulanse in die omgewing gerig.
'n Inwoner wat verkies om anoniem te bly het aan Oudtshoorn Courant vertel dat die vrou meer as 20 km buite Calitzdorp bly en moes 'n taxi haar dorp toe neem, omdat daar nie 'n ambulans beskikbaar was nie.
Ladismith met sy meer as 18 000 inwoners wat tans deur twee ambulanse bedien word. Calitzdorp het net een ambulans.
Megan Davids, kommunikasiehoof van die Wes-Kaapse Nooddienste het by navraag gesê: "Die probleem is nie die aantal ambulanse nie, maar die tekort aan personeel. Daar is ses personeellede nodig om 'n ambulans 24 uur te beman. Die EMS-nooddienste in die Tuinroete is eintlik gunstiger in vergelyking met ander areas in die Wes-Kaap. Ons het die laaste tyd personeeluitdagings ondervind wat 'n direkte impak op ons dienslewering gehad het. Die probleem is dus eintlik nie die voertuie nie, maar die tekort aan personeel om hierdie voertuie te beman."
Volgens Davids is daar 'n tussentydse model van dienslewering wat die toename van dienslewering sal verbeter.
"Ons het tans 'n Emergency First Aid Responders (EFAR)-program waarvolgens plaaslike gemeenskappe bemagtig kan word om noodhulp aan mense te verskaf totdat ons hulp kan verleen."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’