OUDTSHOORN NUUS - Die personeel van die Oudtshoorn-hospitaal het onlangs Internasionale Premature Babadag gevier wat elke jaar op 17 November plaasvind.
Ouers wat in die Oudtshoorn-hospitaal geboorte aan prematuur babatjies geskenk het was ook deel van die spesiale dag.
Volgens dr. L van Eeden is die versorging van premature babas vir hulle by die hospitaal van kardinale belang. "Ons besef dat ons as mediese personeel nie alleen vir ons premature babatjies se lewens veg nie. Ons almal is 'n span en sonder die ma's sal die stryd verlore wees."
Van Eeden het klem gelê op die feit dat die ma's se werk met prematuur babas eintlik moeiliker is, en dat dit eers begin moeilik raak wanneer hulle huis toe gaan. Sy het elke ma en personeellid van die kraamsaal bedank.
"Dankie dat julle die klein lyfies koester en versorg. Ons is geseënd met toegewyde personeel wat regtig die babas se belange op die hart dra."
Elana Marais, die hospitaal se dieetkundige het gepraat oor die belangrikheid van borsmelk en hoe belangrik vel-tot-vel-aanraking vir premature babas is.
"Ons het ook 'n melkbank hier waar mense borsmelk kan skenk. Dit help die babas wanneer die mamma na geboorte nie self kan nie," het sy verduidelik.
Ouers wat aan 'n premature baba geboorte geskenk het, het ook die geleentheid gehad om hul storie met die wat die geleentheid bygewoon het te deel. Al die ouers was dit eens dat indien dit nie vir die knap susters by die hospitaal was nie, hulle dit nie sou kon doen nie.
'n Spesiale koek is vir die geleentheid gebak.
Verpleegpersoneel saam met van die ouers en kinders wat deur hulle hande in die kraamsaal gegaan het.
Verpleegpersoneel van die Oudtshoorn-hospitaal se kraamafdeling. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'