KAROO NUUS - Die Prins Albert-leesfees vind gedurende die laaste naweek van Augustus plaas en die organiseerders nooi inwoners van Oudtshoorn, De Rust, Klaarstroom, Beaufort-Wes, Prins Albert, Prins Albertweg, Leeu Gamka, Merweville en Laingsburg om aan 'n skryfkompetisie deel te neem.
Volgens Hannes Visser, een van die organiseerders van die Prins Albert-leesfees, sal die wenners van die kompetisie gedurende die fees bekendgemaak word.
Inskrywings is slegs oop vir digters en skrywers wat nog nie 'n eie boek of bundel gepubliseer het in die genre waarvoor hulle ingeskryf het nie. Elke deelnemer kan slegs een inskrywing stuur.
Wenners sal voor of op 23 Augustus in kennis gestel word en pryse sal by die openingsaand van die Prins Albert-leesfees op 30 Augustus oorhandig word.
Genres
Skrywers kan kies tussen gedigte en prosa en daar is geen voorgeskrewe onderwerpe in een van die genres nie. Gedigte kan in Engels of Afrikaans geskryf word met ‘n maksimum lengte van 40 reëls. Kortverhale kan ook in Engels of Afrikaans geskryf word met 'n maksimum lengte van 1 500 woorde.
Kategorieë
Daar is twee afdelings; een vir jeugdiges (14 tot 18 jaar oud) en een vir volwassenes (19 jaar en ouer).
Reëls
- Inskrywings moet in Word-formaat wees in 12pt Times New Roman, dubbelspasiëring met standaard kantlyne weerskante. Slegs die titel van die kortverhaal of gedig moet op die titelblad verskyn.
- Die deelnemer se naam, van, ouderdom, fisiese adres en kontaknommer moet in ‘n aparte Word-dokument aangeheg word.
- Die volgende verklaring moet deur die skrywer saam met sy/haar besonderhede aangebring word: Hiermee verklaar ek (Naam en van) op (datum) dat die aangehegte inskrywing my eie oorspronklike werk is, dat daar geen redigeringsproses of taalversorging deur ‘n ander party gedoen is nie, dat die inskrywing nog nooit op enige ander platform of publikasie verskyn het nie, dat dit nie vir enige ander kompetisie ingeskryf is/was nie en dat daar nie van elektroniese KI hulpmiddels gebruik gemaak is nie.
- Afrikaans en Engels ding gesamentlik mee vir pryse.
- Beoordeling geskied anoniem en die beoordelaars se beslissing is finaal.
Prysgeld
- Eerste prys in albei afdelings R750
- Tweede prys in albei afdelings R500
- Derde prys in albei afdelings R250
Inskrywings
Inskrywings open op Vrydag 7 Junie en sluit op 15 Julie om middernag. Alle inskrywings kan elektronies aan Visser by visserh2@gmail.com gestuur word. Navrae kan ook aan Visser ge-epos word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’