OUDTSHOORN NUUS - 'n Klag van huisbraak word ondersoek na daar Woensdagoggend by Best Home & Electric in St. Johnstraat ingebreek is.
Volgens inligting wat die Oudtshoorn Courant op die toneel bekom het, was daar verlede week ook 'n inbraak by dié besigheid.
Daar is egter niks tydens die twee inbrake gesteel nie.
Voorlopige inligting dui daarop dat die alarm by Best Home & Electric omstreeks 04:00 Woensdagoggend afgegaan het.
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê dit blyk dat die inbrekers toegang tot die besigheid gekry het deur een van die dakplate oop te breek. 'n Klag van huisbraak is in die tweede voorval geopen, maar volgens Visser, was daar geen klag vir die eerste inbraak aangemeld nie.
'n Bron het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat die vermeende inbrekers die kragtoevoer wat die besighede in die omgewing van Best Home & Electric van elektrisiteit voorsien, afgesit het voor hulle by die dak ingebreek het. Dit is moontlik dat hulle gedink het dat hulle die alarmstelsel sal deaktiveer indien die kragtoevoer afgesny word.
Op videomateriaal van 'n geslote baan-televisiekamera van 'n besigheid naby Best Home & Electric kan gesien word hoe twee mans kort na die voorval verby die nabygeleë winkel stap met rugsakke op hul rug.
Visser sê geen verdagtes is nog in die saak geïdentifiseer nie.
Polisie het Woensdagoggend 'n deel van 'n besigheid afgesper na inbrekers toegang deur die dak gekry het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'