OUDTSHOORN NUUS - Die ikoniese tweeling, Susan (Putter) Barendse en Martie (Putter) le Roux, welbekend aan elke Oudtshoorn-inwoner, het op 18 Junie hul 80ste verjaarsdag gevier.
Hulle is 'n identiese tweeling en is in Hofmeyr, in die Oos-Kaap, gebore, en het ook daar skoolgegaan.
Na hul skooljare het hulle hul eie lewenspaaie gevolg, maar hulle bly onafskeidbaar. Martie het haar hart aan Piet le Roux gegee, en Susan het verlief geraak op Hannes Barendse. Beide paartjies het meer as 50 jaar van liefde en geluk gedeel.
Die tweeling met hul eggenote is steeds gelukkig getroud en het ongeveer 17 jaar gelede in Oudtshoorn kom aftree. Al woon hulle reg oorkant mekaar, skakel hulle mekaar ongeveer tien keer per dag.
Dié twee is bekende gesigte by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees wat hulle elke jaar getrou bywoon. Hulle vang gewoonlik feesgangers se oog omdat hulle graag dieselfde aantrek. Die twee susters is besonder begaafd in kunsnaaldwerk en die fynste hekelwerk en breiwerk, en spandeer ure om pragtige handwerkartikels as geskenke te maak.
"Ons geniet die KKNK verskriklik, want daar loop ons gereeld bekende akteurs raak en ons geniet dit ook om ander identiese tweelinge te ontmoet, saam te kuier om ouers van identiese tweelinge moed in te praat, want ons hele lewe was een groot avontuur," vertel die tweeling.
Volgens Danie le Roux, eienaar van Radio Klein Karoo en Susan se seun, vertel dat dit vir hulle interessant was om saam met 'n tweeling groot te word.
"Ons het soms maar lekker deurmekaar geraak tussen wie ma en wie tannie is. Dit was komies om te sien dat my pa en oom ook deurmekaar kan raak. Hulle is merkwaardige susters en deel 'n lewe vol liefde, vreugde en avontuur en bly 'n bron van inspirasie vir almal wat hulle ken."
Volgens hom is die groot verjaarsdag met 'n familie-saamtrek by Wilgewandel gevier.
"Familie vanoor die land het gekom om saam met ons die spesiale dag te vier.
"Ons voel bevoorreg om dit steeds saam met hulle te kon vier."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’