KAROO NUUS - Die binnegevegte in Icosa gaan nou 'n draai maak in die hof.
Aan die een kant is Dawid Kamfer, die provinsiale leier van die party - wat ook as interim leier deur sy groep aangewys is - wat, volgens hom vir Jeffrey Donson, Kannaland-burgemeester, as president van Icosa geskors het. Op sy beurt, het Donson vir Kamfer ook geskors.
Dit is nou juis hierdie saak oor die afsonderlike skorsings wat nou in die hof beslis gaan word wanneer Icosa se "tweeling", Kamfer en Donson, mekaar op 8 Desember in die hof die stryd gaan aansê.
Intussen gaan die geveg op grondvloer voort.
"Slegs drie uit die 27 lede van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wil die party oorneem. Dit kan ongelukkig net by 'n kongres gedoen word nie. So my sogenaamde skorsing is onwettig. Ons kongres word die 8ste en die 9de Desember gehou waar nuwe leierskap gekies word volgens Icosa se grondwet," het Donson gesê.
Die heel nuutste in die sage is dat Kamfer nie meer Icosa se raadslid in die Mosselbaai Munisipale Raad is nie.
"Dit is nie 'n train smash nie. Die reg moet sy gang gaan. Die NUK waarvan Donson praat bestaan nie. Wat ons betref is Donson geskors. Die hof sal beslis wie reg of verkeerd is. Ons hou op 10 Desember in Ceres vergadering waar die hofsaak bespreek sal word," het Kamfer gesê.
Nadia Blaauw, voormalige EDENfm-radiopersoonlikheid, is nou Kamfer se plaasvervanger.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het op ’n navraag van Oudtshoorn Courant soos volg geantwoord:
Volgens die huidige rekords van die OVK is Jeffrey Donson die partyleier van Icosa en is Dawid Kamfer nie meer ’n Icosa-raadslid in die Mosselbaai Munisipale Raad nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo-nuus'