OUDTSHOORN NUUS - Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TDM) het verlede week voortgegaan om hulp te verleen aan die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Dit volg nadat dié plaaslike munisipaliteit dringend met die distriksmunisipaliteit moes skakel om aandag te gee aan ’n ernstige waterkrisis in Dysselsdorp, De Rust en Blomnek.
Volgens die distriksmunisipaliteit se rampbestuurshoof, Gerhard Otto, het die probleem ontstaan “nadat ’n kabel beskadig is weens die onlangse kragonderbrekings.”
Tussen Dinsdag en Saterdag (8 Maart) het die tegniese dienste-afdeling van die Oudtshoorn-munisipaliteit vier foutiewe plekke op die hooftoevoerkabel geïdentifiseer en herstel om ’n stabiele toevoer aan gemeenskappe te verseker.
Hierdie kabel is noodsaaklik vir die voorsiening van elektrisiteit aan die waterpompe wat Dysselsdorp van huishoudelike water voorsien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’