OUDTSHOORN NUUS - Die nood by Huis Triomf is die afgelope week tydens die Oudtshoorn-besigheidskamer se netwerkaand by Beans Café uitgelig.
Wilma Pienaar wat betrokke is by Huis Triomf het meer inligting oor hierdie kinder- en jeugsorgsentrum met sakelui gedeel.
"'n Groot uitdaging vir die bestuur van Huis Triomf is om genoegsame fondse te bekom vir die daaglikse bestuur van die instansie. Buiten befondsing van die departement sosiale ontwikkeling het Huis Triomf 'n tekort van R260 000 om hulle deur die jaar te sien. 'n Paar fondsinsamelings inisiatiewe is van stapel gestuur om hul finansies te versterk."
Huis Triomf ACVV is 'n instansie wat omsien na kinders wat deur die hof onder hul sorg geplaas is. Daar was gewoonlik slegs 30 seuns by Huis Triomf, maar hulle is tans geregistreer om 'n maksimum van 60 seuns tussen die ouderdomme van 7 en 17 jaar te huisves. Die hooffokus by Huis Triomf is die kinders en word daar gepoog om hul lewens ten goede te verander. Huis Triomf is geleë in 'n ou gebou wat aan die spoorweg behoort het. Pienaar het verduidelik dat hul doel is om 'n veilige, vriendelike, vrolike en liefdevolle huis vir getraumatiseerde kinders te bied.
Opknapping van Huis Triomf
Omdat dit belangrik is dat die kinders in 'n plek woon waarop hulle trots kan wees, het die bestuur van Huis Triomf besluit om die kombuis, spens en opwaskamer op te knap. Baddens is verwyder en met storte vervang en alle toilette is vervang, die badkamers is herteël en oorgeverf. Verder het die gange in die gebou 'n nuwe lagie verf gekry en is al die ligte, deure, hekke en plafonne vervang.
Die dak en buitemure is geverf en al die geute is vervang. JoJo-wateropvangtenks is geïnstalleer, gras is aangeplant en die oprit is verfraai sodat die gebou baie beter daarna uitsien.
Swembad en grasperk
Aansienlike vordering is gemaak en die swembad is tans onder konstruksie. Die grasperk het nuwe lewe gekry en daar is ook 'n vlugbalbaan aangebring wat die kinders meer geleentheid bied om die buitelug te geniet en aan sport deel te neem.
Rekenaarkamer
Die bestuur van Huis Triomf se doel was om 'n rekenaarkamer daar te stel om sodoende die seuns by te staan met noodsaaklike bronne vir hul onderrig. 'n Spasie is gekies vir hierdie doel en die area is uitgeverf en rakke is opgesit. Daar is drie splinternuwe rekenaars vir die sentrum aangekoop, asook 'n skootrekenaar vir die bestuurder.
Nuwe projekte
Die seuns het nie 'n binnenshuise ontspanningsarea of plek om hul huiswerk te doen nie, alle binnenshuise aktiwiteite word in die eetkamer aangebied. Daar is 'n area geïdentifiseer wat verander sal word in 'n ontspanningsarea. Planne is reeds voltooi, maar die koste om dit in plek te stel beloop R500 000.
Die tehuis benodig ook dringend 'n klein bussie om die seuns van en na skool, sportgeleenthede, mediese afsprake en gemeenskapsdiensprojekte te vervoer.
Raak betrokke
Inwoners en sakelui van Oudtshoorn, wat betrokke wil raak by Huis Triomf of 'n donasie wil maak, kan direk met die bestuur van die tehuis skakel by 044 272 32 34 of 060 699 5316.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’