GEORGE NUUS - 'n Joernalis van Wilderness, Kathy Whitehead, wat op die oomblik in Kaboel in Afganistan vasgekeer is, sal moontlik binne die volgende week kan huis toe kom.
Whitehead, wat in Afganistan werk, probeer al van 20 Maart om terug te kom. Haar ma, Mavis, woon in die Tuiniqua-versorgingsentrum in George.
Whitehead het haar ma Maandag laat weet dat sy moontlik binne die volgende week 'n humanitêre vlug van die Verenigde Nasies (VN) kan kry. Die vlug sal haar na Qatar neem en vandaar na Doha. In Doha sal sy probeer om 'n aansluitingsvlug na Suid-Afrika te haal.
Whitehead se ma het Dinsdag gesê sy is baie bekommerd oor haar dogter. "Maar daar is nou hoop dat sy binnekort tuis sal wees. As sy eers terug is, sal sy vir 'n tyd in kwarantyn moet gaan."
Whitehead het per e-pos uit Kaboel aan George Herald gesê dat haar reisreëlings nog nie gefinaliseer nie, maar daar is 'n kans dat dit wel sal gebeur.
In Maart is alle vlugte in die land sonder enige vooraf waarskuwing opgeskort.
Sy kon nie verder daar werk nie en ander buitelanders is in groot getalle ontruim. Volgens haar gaan die oorlog in die land voort, maar gelukkig was aanvalle op Kaboel, die hoofstad, beperk tot klein ontploffings en enkele vuurpylaanvalle.
"Ek ontvang baie hulp van die ambassade in Pakistan wat die afgelope paar dae baie hard probeer het om my hier uit te kry," het sy Dinsdag laat weet.
"Dit is 'n baie emosionele tyd en by tye moeilik om te hanteer. Ek is al vir sewe weke in insolasie om myself te beskerm teen die virus."
Aanduidings is dat tot 50% van die bevolking Covid-19 kan hê, maar gelukkig is haar woonplek al vir byna twee maande in inperking.
Maandag was die eerste keer dat sy goeie nuus ontvang het. Die VN het haar direk gekontak nadat sy 'n beroep om hulp gedoen het.
Sy het nie net vir haarself hulp gevra nie, maar ook vir honderde ander Suid-Afrikaners in konflikgebiede of wat moeilik bereikbaar is.
As sy eers terug is in Suid-Afrika, het sy geen planne om gou weer weg te gaan nie. Op die oomblik is sy gereed en als is gepak om op kort kennisgewing te vertrek.
"Ek wil net by die huis kom sodat ek die laaste tyd - sonder twyfel die grootste beproewing van my lewe - agter die rug kan sit."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'