OUDTSHOORN NUUS - Highgate Volstruisplaas is reeds vir 32 jaar die borg vir die gewilde Eden-tweekamp, 'n vennootskap wat bitter min sportsoorte mee kan spog.
Vanjaar se eerste tweekamp vind plaas op 1 Februarie in Oudtshoorn. Sewe provinsies gaan deelneem met ongeveer 600 atlete wat verwag word. Dit is naas die SA kampioenskappe die grootste tweekampbyeenkoms in Suid-Afrika.
Die byeenkoms gee Oudtshoorn se ekonomie 'n hupstoot van ongeveer R3.5 miljoen. Die ander twee groot vennote oor die jare is DCAS en Oudtshoorn-munisipaliteit, asook die ondersteuning van verskeie ander borge.
Weens die sukses van die gebeurtenis is die SA kampioenskappe vir 2025 en 2026 aan Oudtshoorn toegeken.
Die tweekampprogram:
• 1 Februarie - Tweekampbyeenkoms by Highgate
• 4 Februarie - Wimpy Doubles
• 4 Maart - Highgate Eden-kampioenskappe by Highgate
• 21 en 22 Maart - SA tweekampkampioenskappe.
Ontwikkelings vlak
Volgens Dave van der Walt, ontwikkelingsbestuurder, is daar ook ontwikkelingsvlak goeie vordering. "Twee ontwikkelingsklinieke word op 19 Februarie in Groot-Brakrivier, en op 11 Maart in Bridgton, Oudtshoorn aangebied. Meer as 200 atlete het reeds geregistreer en daar word nog heelwat verwag met die opening van die skole op 15 Januarie."
Spanne gekies
Volgens hom sal die Eden-meriete en -ontwikkelingspanne tydens die Eden-proewebyeenkoms gekies word. Hulle sal aan die Highgate interprovinsiale kompetisie gaan deelneem. Die span wat aan die SA kampioenskappe gaan deelneem word tydens die Eden-kampioenskappe gekies.
Van der Walt verduidelik dat tweekamp 'n ware gesinssport is waaraan almal kan deelneem. Daar word voorsiening gemaak vir alle ouderdomsgroepe van 7 jaar tot 80 jaar plus."
Tweekamp bestaan uit twee komponente, hardloop (400 m en 800 m) en swem (25 m, 50 m en 100 m).
Behalwe vir die nasionale byeenkomste, vind ligabyeenkomste op Dinsdae aande plaas wat atlete die geleentheid gun om op Saterdae nog ander sportsoorte te beoefen."
Van der Walt noem dat daar ook 'n virtuele klub, Eden Nomads, is waar atlete kan affilieer om deel te neem indien daar nie 'n geaffilieerde klub naby is nie.
Vir meer inligting kan die webtuiste www.edenbiathlon.com en die Facebook-blad 'edenbiathlon' besoek word of kontak Dave van der Walt by 082 7734 901.