OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se oudste klipkerk, 'n bekende baken van sandsteenargitektuur, St Jude's Anglikaanse Kerk in Baron van Reedestraat, ondergaan tans broodnodige herstelwerk aan die binnekant van die kerk. Die herstelwerk word deur plaaslike kontrakteurs gedoen.
Eerwaarde Stephanie Smit, verduidelik dat die kerk sedert die stigting in 1860 heelwat onderhoud en herstelwerk ondergaan het.
"Die kerkraad en gemeente het 'n besluit geneem om die kerk in 2026 soveel moontlik te herstel. Met baie krake en lekkasies ondergaan die kerk nou 'n onderhoudsprojek wat moontlik kan verseker dat die gebou nog 50 jaar kan hou.
"Lede van Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE) het die perseel besoek en die herstelwerk goedgekeur. Ons werk ook nou saam met die erfenisargitek se voorstelle rakende wat gedoen kan word en wat nie. Ons verwag dat die herstelwerk teen einde Februarie voltooi sal wees."
Smit beklemtoon dat die gemeente vasbeslote is om dit wat deur hul voorgangers gebou is, te bewaar en 'n nalatenskap agter te laat wat nie net die geloofsgemeenskap help nie, maar dat die restourasie van die gebou steeds 'n noodsaaklike deel van die geskiedenis van Oudtshoorn sal bly.
St Jude's vier hierdie jaar hul 164ste bestaansjaar en het die kerk 'n ryk geskiedenis. Die pragtige sandsteengebou is ook 'n gewilde toeristetrekpleister met veral die loodglasvensters wat uniek is.
Geskiedenis en ontwikkeling
- In 1855 het biskop Robert Gray en sy vrou, Sophy, die area besoek en planne vir 'n kerk verskaf.
- Die hoeksteen is in 1860 gelê en die gebou is voltooi en op 26 September 1863 deur biskop Gray ingewy.
- Dit is gebou deur Skotse klipkappers met sandsteen uit die omgewing.
- Die koorafdeling (chancel) is in 1880 bygevoeg, 'n nuwe vleuel in 1887, en 'n konsistorie in 1897.
- Die Edmeades-familie het gehelp met skenkings, waaronder die loodglasvensters.
- Eerwaarde Alfred Morris het die kerk van 1860 tot 1902 bedien, gereeld te perd donasies gaan insamel, en is op dieselfde dag as die inwyding as rektor aangestel.
- 'n Rusworth & Liverpool-pyporrel, geïnstalleer in 1883, word beskou as een van die oudstes in Suid-Afrika (gebou omstreeks 1813).
- Die dogter van eerwaarde Morris, Florrie Morris, was vir meer as 70 jaar die orrelis.
- Die kerk is 'n historiese terrein in Oudtshoorn.
- Die kerksaal is in 1905 voltooi en vernoem na Koningin Victoria van Engeland.
Die kerk bly 'n aktiewe geestelike tuiste en is bekend vir sy oop en verwelkomende atmosfeer, ten spyte van vroeë tye van armoede waar die gemeenskap gesukkel het om die bouers te betaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’