OUDTSHOORN NUUS - Die tragiese en skielike dood van Henno Stokes van Jonkies Vervoer in 'n vragmotorongeluk op 24 Maart op die N1 by Kroonvaal het sy familie, vriende, asook vragmotorgemeenskap geruk.
Oudtshoorn Courant was in gesprek met Carin, sy weduwee. "Henno was nederig, geliefd en het alles vir sy familie gedoen. Tyd van die pad af is saam met hulle spandeer. Hy het absoluut alles gedoen om tyd saam met ons seun, Aiden, te spandeer. Hulle het Lego gebou, saam die vragmotor gewas en sommer net alles wat hul kon, saam gedoen."
Vir Carin is dit nog nie 'n werklikheid nie, haar beste vriend, lewensmaat en steunpilaar is in 'n oogwink weg.
"Ons as familie trek bitter swaar, ons weet nog nie hoe om dit te verwerk nie, en of ons ooit sal kan nie, Henno was die spil waarom ons familie gedraai het. Die langpad was sy passie en is dit nog onwerklik om te aanvaar dat dit juis op die langpad was wat hy sy lewe verloor het. Sy plek is stil en leeg."
Op die oomblik wil Carin nie dink wat volgende kom nie, maar het sy ondersteuning van haar familie, vriende, asook die Oudtshoorn-gemeenskap wat laer om haar en Aiden getrek het.
"Die vragmotorgemeenskap, en veral die van Jonkies Vervoer is ongelooflik, dit was sy kollegas en broers op die pad, hulle ondersteun ons sedert die ongeluk gebeur het, en is ons baie dankbaar vir die Back-a-buddy fonds wat gestig is aangesien dit heelwat gate sal toestop."
BackaBuddy
Angelique Botha, 'n jare lange vriendin het dadelik uitgereik en 'n BackaBuddy gestig om die gesin te ondersteun. Carin is ook met Lupus gediagnoseer en staar daagliks persoonlike uitdagings in die gesig.
Donasies tot die fonds sal aangewend word vir begrafniskoste en finansiële ondersteuning vir Carin en Aiden om hul lewens te herbou.
Skandeer vir die BackaBuddy veldtog vir Henno se familie.
Begrafnisdiens
Henno se begrafnisdiens is Saterdag 11 April om 11:00 vanuit die Christus Kerk Oudtshoorn in 34 Condorstraat plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’