OUDTSHOORN NUUS - Hennie Baartman, skoolhoof van Eljada Kairos Skool, is onlangs vereer vir sy 30 jaar lange diens in die onderwys, waarvan hy 25 jaar as hoof gedien het.
Eljada Kairos Skool is 'n skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes. Die skool bied onderrig aan leerders wat verstandelik gestremd is, leerders met outisme, sowel as leerders met leergestremdhede.
Baartman is 'n bekende gesig in Oudts-hoorn, nie net vir sy titel as skoolhoof nie, maar ook sy betrokkenheid by rugby. Hy dien op die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), en was ook tot 2022 president van SWD-rugby.
Baartman het sy loopbaan as jong onderwyser by Strydenburg Primêr in die Noord-Kaap begin, maar hy het kort daarna, op die jong ouderdom van 22, by Eljada Kairos aangesluit, waar hy al vir drie dekades betrokke is.
Hy beskryf sy werk as 'n roeping, gedryf deur die behoefte om 'n verskil in ander se lewens, veral die van sy leerders, te maak.
"My lewensfilosofie is om elke dag wat die Liewe Heer my gee, iets vir iemand anders te beteken. Die feit dat ek elke dag 'n verskil in leerders met spesiale behoeftes se lewens maak, motiveer my om nog lank by die skool te bly."
Een van sy trotse oomblikke as hoof was die stigting van die outistiese eenheid by die skool se Junior Kampus in Baron van Reedestraat in 2021. Die sentrum skep 'n spesiale ruimte vir kinders met outisme om spesifieke ondersteuning te ontvang.
Baartman sê die skool se sukses is te danke aan die toegewyde personeelkorps.
"Hulle het 'n passie vir hulle werk en is elke dag bereid om hul beste te gee."
Baartman sê, "Onderwysers wat met kinders met spesiale behoeftes werk moet geduldig en liefdevol wees - dit is onontbeerlik om in hierdie veld te floreer. Jy moet ook 'n omgee-hart hê."
Ondanks sy betrokke rugbylewe, stel hy altyd die skool eerste en maak hy seker dat hy albei verantwoordelikhede met noukeurige beplanning balanseer.
"Hierdie toekenning dra ek aan my oorlede ouers op. Dit is aan hulle te danke dat ek vandag is waar ek is."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’