OUDTSHOORN NUUS - Cango Wildlife Ranch, een van die groot toeriste-trekpleisters in Oudtshoorn, het reuseskade tydens die vloed vroeër die maand gehad en is uiteindelik na meer as twee weke weer oop.
Tammy Moult, assistent direkteur van toerisme by Cango Wildlife Ranch, het gesê dat meeste van die skade wel herstel is, maar dat hul Agouti-kamp, plaaswerf-gedeelte en speelarea vir kinders steeds onder konstruksie is.
"Ons het ongelooflik baie ondersteuning gedurende die tyd gekry en dit word geweldig baie waardeer."
Moult sê hulle wil inwoners aanmoedig om items te skenk wat die kurators en hanteerders kan help met die opleiding en stimulering van die diere.
Spieëls is lekker om mee te speel.
"Ons hoofdoel is bewaring van diere en die diere wat by die Cango Wildlife Ranch woonagtig is, kom van regoor die wêreld en is hier vir 'n groot verskeidenheid redes. Sommige van ons diere is gered en ander geskenk. Daar is ook baie mense wat vir ons beseerde diere bring wat by ons gerehabiliteer word en dan weer vrygelaat word."
Speel met bokse.
Volgens haar probeer hulle die omgewing waarin die diere leef en gerehabiliteer word so natuurlik as moontlik hou en gebruik hulle verskillende items om die diere se sintuie te stimuleer en hul instinktiewe gedrag en vaardighede aan te wakker.
"Ons gebruik byvoorbeeld parfuum, essensiële olies en speserye, wat ons met strooi meng om in hul kampe te sit sodat hulle met dit kan speel en aan dit kan ruik. Sommige diere is mal daaroor, ander nie.
Ons steek hul kos in leë toiletrolletjies, eierbokse en kartonne weg om hulle vir hul kos te laat werk. Dit is alles ontwerp sodat hulle hul brein en vaardighede kan gebruik soos in die natuur. Dit is letterlik fisiese en geestelike oefening vir hulle. Ons kan hangmatte maak van ou brandslange, ons maak tonnels uit PVC-pype en die boombas is goed om insekte vir die meerkatte in weg te steek. Hierdie aktiwiteite bevorder gelukkige en gesonde diere," verduidelik sy.
Skenkings
Items wat geskenk kan word, is onder andere leë eierbokse, papierhanddoekrolle, kartonbokse, spieëls, goiingsakke, troeteldier-speelgoed, hol stompe, dennebolle, boombas, ongebruikte brandslange, PVC-pype en speelgoed soos kinderbaddens, balle of houtblokke in. Items wat reuksintuie kan stimuleer, soos olies en speserye word ook verwelkom.
Vir skenkings, of ander navrae kontak 044 272 5593 of stuur 'n e-pos aan info@cango.co.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’