Update
KLEIN KAROO NUUS - 'n Verwoestende brand wat Maandag in Gamkaskloof (Die Hel) uitgebreek het, het die enigste gesin wat nog 'n bestaan in die kloof maak, teen die grond.
Piet Joubert en sy vrou, Marinette, hul twee kinders en Piet se ouers, Annetjie en Bennie, woon op Fonteinplaas en is die eienaars van die kampeerterrein, karavane en huisies waar besoekers kan oornag. Die hele kampterrein en die huisies is deur die brand vernietig.
Volgens Marinette het die brand Maandag begin en vinnig versprei.
"Ons inkomste is direk afhanklik van die gastehuisies en kampeerterrein en feitlik alles het tot op die grond afgebrand. Die vee wat op die plaas is, is vir ons eie gebruik, maar daar is geen voer vir hulle oor nie. Ons tente, karavane en safaritent het afgebrand en die kliphuisies het baie skade. Oupa Piet Mostert se huis het brandskade en die dak het ook ingeval."
"Dit is basies net ons kiosk, ons huis, my skoonouers se huis en die werkers se huisies wat nog staande is, maar die skade rondom die werkers se huisies is groot en daarom woon hulle nou in die een staande gastehuis tot dit weer vir hulle leefbaar is om daar te bly," het sy gesê.
Teen Woensdag toe sy telefonies met die Oudtshoorn Courant gepraat het, het die brand steeds in die Swartberge gewoed.
Volgens Marinette kan dit maande neem voor hulle weer 'n inkomste kan genereer en moes hulle besprekings wat reeds vir die komende vakansie gemaak is, kanselleer.
"Ons is egter steeds positief. Almal wat kon, het gehelp om emmers met water rond te dra en nat te spuit sodat ons huise nie brand nie. Die werkers het almal ingespring en gehelp om die brand te bestry en te red wat te redde is."
Een van die werkers wat met emmers water verhoed het dat die brand na die woonhuise versprei. Foto: Marinette Joubert
Die omvang van die brand is volgens Marinette baie groter as die sigbare skade.
"Ons en die werkers het nie net ons dag-tot-dag bestaansmiddele verloor nie, maar ook enige vooruitsigte op inkomste vir ten minste die volgende ses maande. Die Hel is 'n gewilde vakansiebestemming en lok jaarliks duisende toeriste. Mense wat betrokke wil raak kan die Jouberts by 087 808 5730 kontak.
Loren Pavitt, woordvoerder van CapeNature, het gesê hulle personeel sowel as verskeie brandbestryders is in Gamkaskloof om die brand te monitor.
Sy het gesê Gamkaskloof sal tot 2 Desember gesluit wees weens die brand. "Lede van die publiek word gevra om die area te vermy aangesien die brande steeds 'n gevaar kan wees." Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.
Lees 'n vorige artikel: Brand in Gamkaskloof
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'