LADISMITH OUDTSHOORN NUUS - Heindrich Wyngaardt, bekende aanbieder van die televisieprogram, KLOP!, op kykNet het verlede week die ouers van Laerskool Towerkop in ’n stampvol VGK-kerksaal besoek.
Hierdie was deel van 'n oueraand wat deur Laerskool Towerkop gereël is, sodat ouers die erns van ouerbetrokkenheid kan besef. Dit is ook waaroor Wyngaardt die ouers toegespreek het.
Die skool het Wyngaardt as motiveringspreker vir die ouers en leerders bespreek sodat hulle uit die mond van iemand wie self nie as ’n "bevoorregte kind" beskou kon word, hoor dat omstandighede jou nooit hoef terug te hou nie.
Wyngaardt het sy lewensverhaal gedeel en vertel dat sy pa oorlede is toe hy net nege jaar oud was en hy verder deur sy ma "wat tot haar dood toe gedrink het" groot gemaak is.
Hy het die ouers daarop gewys dat hierdie alkoholis-moeder egter nie nagelaat het om hom die basiese maniere soos om ander groet, nie in grootmense se geselskap te sit nie en respek vir ander, te leer nie.
"Ek het met min bereik dit waar ek vandag is. Ons moet ons waardigheid behou, kry ’n werk, hou op bedel. Moenie die CV wat "weggegooi" word as verskoning gebruik nie. Wat is op jou CV? Graad 5?"
Hy het ook genoem dat baie ouers baie geld spandeer aan klein matriekafskeidjies by die huis, maar glad nie beplan vir wat die kind na skool gaan doen nie.
"Ek het nie my vier kinders so gemaklik grootgemaak nie. Ouers, ons moet beplan vir ons kinders se toekoms. Ons weet lankal wat ons kinders se potensiaal is, maar na matriek kan ons hulle nie laat leer nie, want ons beplan nie."
Wyngaardt het ook na boeliegedrag verwys, en spesifiek die geval van Sherwin Netherlands (13) van Oudtshoorn wie ernstig beseer is na `n speletjie skeefgeloop het en tans in die hospitaal is.
Hy het opvoeders gevra om waaksaam vir hierdie tipe gedrag by die skool te wees.
Die skool het ook die geleentheid gebruik om die plaaslike skoolverpleegkundige, suster Carol Philander, te nooi om ouers met ouers te gesels oor die belangrikheid van inentings.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’