DYSSELSDORP NUUS - 'n Bejaarde egpaar van Hazenjacht, 'n plaas naby Dysselsdorp, kon verlede Vrydag 17 Julie, nie hul dankbaarheid beteuel nadat hul huisie as deel van 'n Mandeladag-inisiatief opgeknap is nie.
Abraham Booysen (61) en Christina Booysen (60) se woning is opgegradeer danksy die samewerking van gemeenskapswerker Phillip Seroux, hul geestelike leier, pastoor Samuel Jaftha van die Emanuel Pinksterkerk in Dysselsdorp, plaaslike donateurs en lede van die gemeenskap.
Volgens Seroux het Jaftha hom onlangs genader met die versoek om betrokke te raak by die opknapping van die huis van twee van sy gemeentelede as deel van Mandeladag-vieringe.
"Ons doen gereeld saam uitreikingswerk en ek het onmiddellik ingestem om te help. Daarna het ek begin om bydraes vir die projek te bekom," het Seroux vertel.
Hy sê die gemeenskap het saamgestaan en die uitdaging aangepak om te verseker dat die projek suksesvol voltooi word.
Seroux het sy dank uit-gespreek teenoor onder meer Oudtshoorn Build It, Auto International Glass, African Queen en ander donateurs vir hul ruim bydraes wat dit moontlik gemaak het om die Booysen-egpaar se woning te verbeter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’