OUDTSHOORN NUUS - Sowat 22 haweloses, wat 'n baba en 'n kind met gestremdhede insluit, het Maandagmiddag opgeruk om die Bridgton-vakansieoord onwettig te beset.
Wetstoepassers het egter Dinsdag, terwyl die besetters 'n spesiale raadsvergadering van die munisipaliteit bygewoon het om dié kwessie te bespreek, die oord se onthaalsaal waar hulle die vorige aand geslaap het, met slotte gesluit om hulle verdere toegang te belet.
Die besetters het ondanks die feit dat hulle nie toegang tot die wooneenhede of die onthaalsaal het nie, besluit om steeds op die perseel te oornag onder die ope lug.
Volgens een van die besetters het die wetstoepassers aan hulle gesê dat daar alternatiewe blyplek by die Toekomsrus-gemeenskapsaal vir hulle gereël is.
Toe hulle egter daar kom het die munisipale amptenare in beheer van die gemeenskapsaal, volgens die besetters, hulle toegang geweier en gesê dat hulle nie kennis dra van sulke reëlings nie. Die besetters het toe weer teruggekeer na die chalets en hulle tuisgemaak op een van die wooneenhede se stoepe om te oornag.
"Ons almal wat hier is het geen herberg nie, so ons het geen keuse om hier op die stoep te slaap nie. Die plan is om weer die munisipaliteit te gaan sien oor die pad vorentoe. Die chalets het in elk geval wawyd oopgestaan wat die skollies nou elke dag loop en afbreek. Dis hoekom ons besluit het om in te trek want ons breek mos nie af nie.
"Ons sal liewer toesien dat die chalets nie verder stuk-vir-stuk weggedra word nie. Ons is ook bewus dat hier vir maande alreeds 'n onwettige gesin op die chalets se perseel woon wat geen huur of belasting aan die munisipaliteit betaal nie. So waar trek 'n mens die streep?"
Die besetters sê verder dat hulle aanvanklik bewus geraak het dat die onthaalsaal oopstaan toe 'n paar mans hulle meegedeel het dat hulle veerpyltjiesport daar beoefen.
"As die munisipaliteit dit kan toelaat kan hulle ons ook mos insien vir 'n dak oor ons koppe."
Raadslid Vlancio Donson (Icosa) het tydens die spesiale raadsvergadering gesê dat hy nie met die ANC kan saamstem om die besetters toegang tot die chalets te weier en op straat te sit nie.
Een van die besetters wys waar die wetstoepassers 'n slot by die onthaalsaal aangebring het waar hulle die vorige nag geslaap het.
"Kom ons laat die mense solank daar bly totdat ons 'n werkbare oplossing kry. Ten minste weet ons dat die plek nie verder skade sal ly nie. Hoekom gee ons nie die chalets vir plaaslike besighede wat die plek namens die munisipaliteit kan bestuur en tot sy vorige glorie kan herstel nie?" was sy voorstel.
Chris McPherson (DA) was van mening dat geen munisipale raadslid onwettige besetting kan goedpraat nie.
"Dit sal beteken dat enige persoon enige gebou kan beset soos hulle lus het. As ons dit nou toelaat dan stuur ons 'n boodskap uit dat die huise wat ons byvoorbeeld op Dyssesldorp bou, ook deur enigeen beset kan word.
"As jy wanorde in enige dorp wil hê, dan moet jy dit toelaat. Dan sou ek ook graag wou weet waar die besetters voorheen gewoon het. Die raad dreig nou ook al lank om iets daadwerkliks te doen aan die chalets en miskien is hierdie 'n wekroep. 'n Tenderproses vir voorstelle is ook reeds uitgesit vir publieke deelname om te bepaal wat gedoen kan word om die chalets weer operasioneel te maak. Ek doen 'n beroep op die burgemeester dat daar spoedig 'n oplossing gevind kan word waarby almal, en nie net 'n sekere groep nie, kan baatvind, maar op 'n wettige manier."
Die besetters het ondanks die feit dat hulle nie toegang tot die wooneenhede of die onthaalsaal het nie, besluit om steeds op die perseel te slaap onder die ope lug. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'