Gallery
OUDTSHOORN NUUS - 'n Verlate gebou in die veld naby die noordelike omgewing van Oudtshoorn is verlede Vrydag afgebreek nadat inwoners onlangs daaroor gekla het, omdat haweloses hulself daar begin tuismaak het.
Volgens die inwoners van Noord is die haweloses 'n gevaar vir huiseienaars in die omgewing en mense wat die veld gebruik.
FOTOGALERY: 'n Verlate gebou en haweloses
Na bewering is die plakkers al telkens van die area deur die Oudtshoorn-munisipaliteit verwyder, maar kom gereeld terug na die vervalle gebou wat, luidens 'n verklaring van die munisipaliteit, dekades terug 'n steenwerke in die omgewing was.
Die munisipaliteit se verklaring, uitgereik deur woordvoerder Aurelia Mle, sê dat die munisipaliteit opdrag aan kontrakteurs gegee het om die sementstruktuur in die veld aangrensend aan Johnsonsingel af te breek. Luidens die verklaring is die munisipaliteit forseer om dit te doen na herhaalde, onsuksesvolle pogings om die onwettige plakkers te verwyder.
"Talle klagtes is van inwoners ontvang oor mense wat in die struktuur woon, en weens veiligheidsredes is die munisipaliteit genoodsaak om op te tree. Ook in die lig daarvan as voorkomende maatreël om toekomstige plakkers te keer om hulself hier te kom vestig. Oor die afgelope maande het munisipale wetstoepassers tevergeefs probeer om onwettige plakkers te ontruim wat eenvoudig terugkeer sodra die beamptes vertrek het."
Die plakkers wat Vrydag uit die struktuur verwyder is, is volgens die munisipaliteit reeds die vorige week gewaarsku om te ontruim, maar het toe net teruggekeer.
"Hulle is tyd gegun om hul besittings uit die struktuur te verwyder voordat die afbreek van die struktuur onder die toesig van wetstoepassers begin is."
Die mense wat die struktuur bewoon het was Vrydag duidelik ontsteld oor die afbreek van hul woning en het geweier om met Oudtshoorn Courant te gesels. Die koerant is summier weggejaag, selfs nadat daar aan hulle verduidelik is dat die koerant net hul kant van die storie wou stel.
Inwoners van die omgewing het reeds die week voor die afbreek van die struktuur by die koerant gekla en hul bekommernisse oor die besetting van die verlate struktuur oorgedra.
Mike Bevis, een van hierdie inwoners, het vertel dat die grootste bekommernis vir mense in Oudtshoorn-Noord eiendomsdevaluasie is - met ander woorde dat die waarde van hul eiendomme agteruit sal gaan. Buiten dit is daar moontlike veiligheidsbedreigings wat 'n impak op die gemeenskap sal hê.
"Ek en my gesin gebruik meestal die veld om met ons honde te gaan stap en ons probeer selfs daar skoonmaak met tye. Dan is daar ander mense wat die veld gebruik om te gaan hardloop en hierdie plakkers hou moontlik vir hulle ook 'n gevaar in," sê hy.
Volgens Bevis lyk dit reeds asof die plakkers weer terugkeer na die einste gebou wat tans in puin lê.
Die mense wat die verlate gebou gebruik het sit eenkant met hul besittings terwyl die gebou afgebreek word. Hulle het geweier om met Oudtshoorn Courant te gesels.
Die oorblyfsels van wat moontlik iemand se slaapkamer kon wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’