OUDTSHOORN NUUS - Twee afsonderlike brande by informele strukture het die afgelope naweek plaasgevind en die lewe van een persoon geëis. Die eerste voorval was Saterdag 1 Februarie in Dysselsdorp en 'n ma en haar dogtertjie is met ernstige brandwonde in die hospitaal opgeneem.
Die volgende dag brand 'n struktuur in Bongolethu af en eis die lewe van Joeniel Bruintjies.
Man sterf in brand
Oudtshoorn-polisie ondersoek tans die oorsaak van die brand waarin 'n 38-jarige man, Joeniel Bruintjies, sy lewe verloor het.
Die insident het Sondagaand, 2 Februarie, by die Kanaal in Bongolethu plaasgevind nadat die struktuur in die informele nedersetting afgebrand het.
Bruintjies was in die struktuur wat oorkant sy ouers se struktuur geleë was.
Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) beoog om op Donderdag 6 Februarie 'n kranslegging vir die gebroke familie te hou op die plek waar die brand plaasgevind het.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die voorval bevestig.
Volgens hom het die struktuur steeds gebrand toe nooddienste by die toneel opdaag. Sy liggaam is later binne die struktuur gevind.
Bruintjies se ma, Anna, sê alles het baie vinnig gebeur.
Joeniel Bruintjies
"Daar was baie vlamme en rook en ons het eers later besef dit is ons kind wat dood is. My hart is bitter seer, my dogter is jare gelede oorlede en nou my enigste seun, net ons kleinseun Doniel Ronalde Abrahams (18) is nou oor."
Die familie het nog nie begrafnisreëlings getref nie aangesien hulle moet wag op die forensiese-ondersoek wat afgehandel moet word.
Ma en dogtertjie in hospitaal
Gerika Daniels en haar babadogter, Eshline Daniels (18 maande) is Saterdag met ernstige brandwonde na die Oudtshoorn-hospitaal geneem na hul opslaanstruktuur in Dysselsdorp aan die brand geslaan het. Gerika is met ernstige brandwonde oorgeplaas na George-hospitaal en Maandag na Grootte Schuur in Kaapstad.
Volgens inligting het sy en haar baba-dogtertjie die dood net-net vrygespring nadat bure hulle te hulp gesnel het. Sy het net betyds haar baba deur die venster aan 'n buurvrou aangegee.
Die bure het ook die deur afgebreek om haar uit die brandende struktuur te kry. George Meyer van Dysselsdorp wat naby woon, het die polisie, brandweer en ambulans gekontak.
Al hulle besiting is in die brand vernietig, insluitende Gerika se identiteitsdokument en Eshline se geboortesertifikaat. Volgens haar familie gaan dit goed met Eshline. Gerika het lelike brandwonde opgedoen en word steeds in Grootte Schuur behandel.
"Ons vertrou dat sy vinnig sal herstel."
‘Gerika Daniels
Eshline Daniels
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’