OUDTSHOORN NUUS - Steelwings MC Breederivier se sewende Winter Rally het die afgelope naweek van 23 tot 25 Augustus by Kleinplaas in Oudtshoorn plaasgevind.
Hierdie jaar is geld ingesamel vir Helen Bellinganhof tehuis vir bejaardes. Saterdagoggend, 24 Augustus, het die motorfietsryers die gebruiklike massarit na die tehuis onderneem.
Buiten die geld wat ingesamel is, is daar ook gespog met die ysterperde en is bejaardes die geleentheid gegun om te voel hoe dit is om agterop 'n Harley Davidson-motorfiets te sit.
Volgens Christelle van Noordwyk beoog hulle om met die geld wat hierdie jaar ingesamel is 'n televisie vir die tehuis se sitkamer, urns, ketels, bedpanne en stortstoele aan te koop. Verlede jaar het die klub rolstoele vir die tehuis aangekoop.
Phillip Jordaan, president Steelwings MC Breederivier, noem dat dit vir die klub 'n voorreg bly om Oudtshoorn jaarliks te besoek.
“Om terug te gee aan bejaardes herinner ons daagliks aan ons seëninge en is 'n jaarlikse hoogtepunt vir die klub. Hoewel ons bydrae slegs 'n druppel in die emmer is, hoop ons dat ons 'n verskil kan maak en dat ons volgende jaar meer vreugde kan versprei."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’