OUDTSHOORN NUUS - Eljada Nasorgsentrum in Oudtshoorn het Woensdagaand, 11 September, 'n suksesvolle fondsinsameling in die vorm van 'n 70's Master Chef-kompetisie aangebied.
Die spanne moes binne twee ure 'n hamburger-ete voorsit en is daar omtrent gespartel om alles betyds af te handel. Die spanne wat deelgeneem het, het nie teleurgestel nie en het die beoordelaars behoorlik kop gekrap om die wenners aan te wys.
Greace Lightning is as tema gebruik en het deelnemers, asook inwoners wat die fondsinsameling bygewoon het volgens die tema aangetrek. Die saal is volgens die tema versier en 'n feestelike atmosfeer het gesorg vir 'n baie lekker aand.
Volgens Gerda Swart, die bestuurder van die sentrum, was hul verstom om te sien hoeveel Oudtshoorniete opgedaag het vir die geleentheid.
"Ons doel is werklik om die gemeenskap van Oudtshoorn weer terug te nooi na Eljada Nasorgsentrum. Ek besef meer en meer dat daar baie verwarring is rondom Eljada Kairos en Eljada Nasorg. Ons is twee verskillende instansies, maar die gemeenskap dink baie keer ons is deel van Eljada Kairos. Eljada Kairos is 'n WKOD instansie en ons is 'n program van Badisa. Ons doelwit is om weer Oudtshoorn aan Eljada Nasorg bekend te stel."
Wenner van die kompetitsie is
Die uitslae van die Master Chef-kompetisie was soos volg:
- Eerste plek: Esmerie du Plessis, Iona du Plessis, Charlotte Bothma en Marelize van Dyk.
- Tweede plek: Belinda du Plessis, Linda Lipshitz, Jodi Muller en Annamae du Plessis.
- Derde plek: Elandi Rautenbach en Bottlierspan.
Meer oor Eljada
Eljada Nasorgsentrum is 'n residensiële versorgingsfasiliteit wat geregistreer is om 100 volwasse persone met intellektuele gestremdhede voltyds te versorg. Die sentrum bied holistiese versorging aan die persone, asook, ontwikkelings- en versorgingsprogramme binne 'n veilige omgewing waar hulle liefdevolle versorging en ondersteuning ontvang.
Dagsorgkliënte wat in die gemeenskap woon word gedurende weekdae in die ontwikkelingsprogram geakkommodeer.
Toelating vind plaas met inagneming van die beskikbare dienste, personeelkapasiteit en bestaande infrastruktuur. Aansoekers met fisiese gestremdhede wat van mediese hulpmiddels afhanklik is, kan nie toegelaat word nie. Aansoekers wat deur die Vakkundige Komitee gekeur is, word toegelaat.
Dienslewering by Eljada Nasorg fokus op bevordering en handhawing van persone met intellektuele gestremdhede se volle potensiaal. Daar word gestreef daarna om ondersteuning te bied sodat kliënte selfstandige en volwaardige lede van die gemeenskap kan wees.
Dit is daarom belangrik dat hulle 'n integrale deel van die gemeenskap bly.
Besoek gerus Oudtshoorn Courant webtuiste vir 'n volledige galery van die geleentheid by www.oudtshoorncourant.com
Video's van die geleentheid kan gesien word op die koerant se Facebook-blad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’