Update
CALITZDORP NUUS - Boerdery is voorwaar 'n moeilike en uiters uitdagende bedryf waar terugslae landbouers aanhoudend kan tref en dit verg groot inspanning om nie tou op te gooi nie.
Dit was die boodskap van boere met wie daar verlede week gesels is nadat hulle deur die derde natuurramp die afgelope aantal jare getref is.
In die geval van wynboere was Covid-19 'n vierde ramp. Nadat boere 'n uitmergelende droogte van meer as vyf jaar moes trotseer, was die welkome reën die afgelope twee weke vir sommige net nog 'n terugslag toe 'n onverwagte haelbui verlede Woensdag uitgesak het. Die haelstorm het net na 17:00 uitgebreek en vrugtebome van hulle jong vruggies gestroop en ook groot skade aan wingerde aangerig.
Volgens Boets Nel van De Krans het hulle ongeveer 80% van hulle appelkoos- en perske-oes verloor en na raming omtrent 40% van hulle druiwe in blokke waar die minste skade aangerig is. Hy het gesê die hael was heeltemal onverwags en sulke haelskade het laas in 1993 voorgekom.
Hierdie terugslag volg skaars twee weke nadat onverwagte ryp op 3 Oktober voorgekom het en groot gedeeltes van boere se wingerde beskadig het.
Johan Fourie van JLA Boerdery en direksielid van Calitzdorp-kelders, het na die ryp gesê: "Na langdurige droogte en die Covid-aanslag is nog 'n spyker in wingerdboere se bedryf geslaan toe die temperatuur tot 1 graad gedaal het wat 'n swaar rypneerslag op laagliggende dele veroorsaak het. Na raming is tussen 60% en 70% skade in sommige wingerde waargeneem.
Dit is die ergste rypskade wat Calitzdorp in 'n lang tyd beleef het. Na 'n mooi herstel in tonne opbrengs van wingerde in 2021 was die vooruitsigte belowend vir 'n goeie oes vir 2022."
Intussen het 'n video die ronde gedoen waar beeldmateriaal honderde dooie volstruise wys wat ook deur hael doodgeslaan is. Volgens die video was dit volstruise in die Calitzdorp-omgewing, maar plaaslike volstruisboere het bevestig dat die voorval in die omgewing van Aberdeen plaasgevind het. Sover vasgestel kon word, is geen volstruise in die Calitzdorp-omgewing deur hael gedood nie.
Jong vruggies lê onder bome gesaai nadat hael die boorde getref het.
VORIGE ARTIKEL: Nog 'n terugslag vir Calitzdorp-boere
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'