DE RUST NUUS - 'n Inwoner van De Rust het hom die gramskap van 'n nuwe buurvrou op die hals gehaal omdat sy een hoenderhaan glo in die nag buitensporig hard kraai.
Gerrit van Deventer woon reeds drie jaar op De Rust en sê hy het nog nooit sonde met die bure gehad nie.
Volgens hom het die vorige bure en hy goed oor die weg gekom.
Alles het egter verander toe sy nuwe buurvrou 'n aantal maande gelede die huis gekoop en ingetrek het en hy 'n rukkie daarna 'n nuwe haan gekry het.
Die buurvrou het by die munisipaliteit gekla oor die haan se ontydige gekraaiery en Van Deventer het op 30 Oktober 'n brief van die munisipaliteit ontvang, wat hom in kennis stel dat hy van die haan moet ontslae raak.
Hy het die afgelope naweek sy lot op die Facebook-blad, Oudtshoorniete Staan Saam, bekla en skaars twee dae na sy plasing was daar meer as 400 kommentare onder sy plasing van mense wat hom ondersteun.
Hy het intussen die haan aan iemand op Oudtshoorn gegee en hy maak snags die ander haan wat saam gekraai het, in 'n hondehok toe sodat sy kraaiery nie tot verdere konflik lei nie.
In 'n telefoongesprek het die buurvrou Dinsdag aan Oudtshoorn Courant gesê sy woon reeds die afgelope twee jaar op De Rust en het aanvanklik langs die hoofstraat gebly waar die verkeer vreeslik steurend was.
Sy het die huis waar sy tans woon in Maart gekoop, maar as gevolg van die inperkingsmaatreëls is die oordrag eers onlangs afgehandel. Volgens haar het sy nie 'n probleem gehad totdat die nuwe haan op die erf langsaan begin kraai het nie.
"Dit was so rustig hier, vir die eerste keer in twee jaar kon ek lekker slaap en toe begin die haan," het sy gesê. Sy erken dat sy nie die haan se gekraaiery met Van Deventer bespreek het nie en eerder besluit het om dit dadelik aan die munisipaliteit te rapporteer.
"Die ander haantjie kraai ook, maar dit is nie naastenby so hard soos die een wat weg is nie, en wat my aanbetref is die probleem nou opgelos," het sy gesê.
Oor die oorblywende haan het Van Deventer gesê: "Hy is nog maar jonk, ek weet nie hoe hard sy stem gaan raak as hy groter word nie."
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'