OUDTSHOORN NUUS - Rooiheuwel Primêr het die afgelope naweek vir die derde keer hierdie geldinsamelingstoernooi gehou. Volgens John de Laan, skoolhoof, was daar 14 laerskole betrokke waaronder Phakanasani, Colridge, De Villiers, Saturnus, Dysselsdorp, St. Konrad, Zoar, Voorbedacht, Grootkraal, Zeekoegat, De Jager en Rooiheuwel Primêr.
"Die dag was 'n reusesukses. Daar was ongelooflik baie mense en o. 9-, o. 11- en o. 13-netbal- en rugbyspanne het aan die dag deelgeneem."
Volgens Hennie Baartman, president van die SWD-rugbyunie en bekende in plaaslike sportkringe, woon hy elke jaar die geleentheid in sy persoonlike hoedanigheid by.
"Ek is daar gebore. Ek borg ook in my persoonlike hoedanigheid iets vir die geleentheid. Sulke toernooie is belangrik vir die groei van ons kinders, veral omdat daar spesiaal op kinders van landelike gebiede gefokus word."
Baartman het mense genooi om die volgende een te ondersteun.
Dr. Wessel Vermeulen, 'n bekende dokter in Oudtshoorn, het gesê dit is by sulke geleenthede waar hulle na die volgende Breyten Paulse soek. Hy het in die Koue Bokkeveld op die grondpaaie rondgehardloop tot die boer langsaan hom raakgesien het.
"Hierdie geleenthede is so belangrik vir ons jong kinders en meer mense moet hiervan weet en daarvan deel wees."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’