OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot eer het ds. Ebraimilde Booysen, ’n boorling van Oudtshoorn te beurt geval toe hy onlangs as scriba synodi (algemene sekretaris van die Volkskerk van Afrika Sinode) verkies is.
Booysen, seun van Sophie en wyle Plaatjie Booysen, woon en bedien tans in Kimberley vir etlike jare reeds en is ook lid van die sentrale raad.
Hy is voorts ook aktief betrokke in die Noord-Kaap se geestelike kringe.
Booysen het sy teologiese opleiding by die TEEC (Theological Education by Extension College) ontvang en sy skoolloopbaan in Oudtshoorn by Colridge Primêr en Bridgton Senior Sekondêr voltooi.
Volgens Booysen het wyle dr. David Piedt en Jerome Jantjies in Oudtshoorn 'n groot invloed op sy lewe gehad.
Booysen vertel dat hy reeds in gr. 11 besluit het om 'n voltydse predikant te word.
"Ek was van kindsbeen af betrokke in die kerk en daar het ek besef dat ek deur die verkondiging van die evangelie, 'n verskil wil maak en mense help.
Ek hoop dat my sukses as inspirasie vir die jeug van Oudtshoorn kan dien," het Booysen gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'