Update
OUDTSHOORN NUUS - Sedert die aanvanklike 14 informele strukture langs die N12 en die gholfbaan teen die einde van verlede jaar opgerig is, het hulle tot 46 toegeneem en is daar tans op drie ander plekke soveel as 150 strukture besig om soos sampioene op te slaan.
Dit blyk dat die katalisator vir die drie nuwe grondbesettings die dienste was wat sowat drie weke gelede vir die mense langs die gholfbaan gegee is.
Die munisipaliteit het 'n watertenk en tydelike toilette by die 46 hutte aangebring.
Sedertdien het drie nuwe plakkerskampe in woonbuurte die lig gesien. Bykans 30 hutte is twee weke gelede in Rosebank langs Petunialaan opgeslaan, en kort daarna is meer as 20 hutte in Toekomsrus aan die onderpunt van Weyerslaan opgerig.
Die nuutste kopseer vir die munisipaliteit is meer as 80 "erfies" wat langs Sebraweg by die Bongolethu-sirkel afgekamp is. Teen Woensdag was 'n hele aantal mense reeds besig om pale te plant en drie strukture was reeds dakhoogte.
Inwoners van al drie die kampe is net soos die inwoners van Hopeville langs die gholfbaan, mense wat in agterplase woon en beweer dat hulle reeds etlike jare op die behuisingswaglys is, maar nie huise kry nie.
Al drie nuwe kampe dring nou aan op dienste en die groep by die Bongolethu-sirkel het aangedui dat hulle ook grond oorkant die pad gaan beset.
Die informele nedersetting met ongeveer 20 hutte wat die afgelope twee weke in Weyerslaan, Toekomsrus verrys het.
Intussen skarrel die munisipaliteit om stappe in plek te kry om van die strukture ontslae te raak. Mense wat langs Petunialaan opgeslaan het, het gister briewe van die munisipaliteit ontvang om hulle in kennis te stel dat hulle die strukture moet verwyder, maar inwoners steur hulle skynbaar nie aan die kennisgewing nie.
Daar is verneem dat munisipale werkers gister by die perseel in Bongolethu was om die halfvoltooide strukture en pale te verwyder, maar hulle was teen saktyd in gesprek met die polisie.
Ntobeko Mangqwengqwe, kommunikasie-beampte van Oudtshoorn-munisipaliteit, het Woensdag in 'n verklaring gesê die munisipaliteit is bewus van die onwettige besetting van grond en dat hulle besig is om volgens voorgeskrewe wetgewing op te tree en dat regsmenings ingewin word sodat die munisipaliteit die hof vir uitsetting kan nader.
Inwoners van die informele nedersettings het gerugte dat iemand grond aan die besetters verkoop, ontken.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'