OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou met 'n plan en 'n man met groen-vingers sit agter die pragtige groentetuin by Bergsig Primêr in Bridgton, Oudtshoorn.
Kathryn Eybers van Numbi Valley Permaculture is reeds in geruime tyd betrokke by die skool se tuin. Buiten dat dit kinders die geleentheid bied om die waarde van tuinmaak te leer, voorsien die tuin ook groente aan die skool se kombuis om te verseker die leerders voedsame en gesonde kos, vars uit hul eie tuin ontvang.
Adrian Jonkers vertel dat daar ses maande gelede nie 'n plant in sig was nie, vandag groei alles welig. Hy het reeds vyf keer geoes. 'n Tweede tuin by Bongolethu Primêr word ook deur Eybers onderhou en groei ook geil.
Eybers is passievol om gifvrye kos, wat in harmonie met die natuur gekweek word, te oes.
"Die meeste van die kos wat vandag vir supermarkte beskikbaar is, is hoogs verwerk, en so baie chemikalieë is gebruik om dit te vervaardig. Dit het verwoestende uitwerking op ons gesondheid en die gesondheid van ons omgewing."
Hulle kweek reeds 20 jaar organiese produkte (sonder om enige chemikalieë te gebruik) op Numbi Valley, 'n permakultuurplaas buite De Rust. "Ek wou hierdie kennis met ander in my gemeenskap deel, veral diegene wat weens finansiële beperkings dalk nie toegang tot gesonde kos het nie. Elke pouse by die skool sien ek kinders wat suiglekkers eet en spookies en flyers chips. Die bestanddele wat in hierdie skyfies gelys word, is skrikwekkend en giftig, soveel so dat die skyfies eintlik 'n lig vang met 'n vuurhoutjie. Dit belemmer die brein en fisiese ontwikkeling van hierdie kinders, en sal op die langtermyn veroorsaak dat vroeë siektes manifesteer. Dit is noodsaaklik dat dit aangespreek word en die beste manier waarop ek voel, is om 'n alternatief te bied, om te help om die kennis weer op te wek van hoe om ons eie kos te kweek."
Die hooftuinier by bergsig, Adrian Jonkers is 'n fenomenale kweker, hy inspireer daagliks die kinders by die tuin met sy ongelooflike kostuin. Dit is 'n besoek werd om die gesondheid en lewenskrag van sy hoë vibrasietuin te sien.
"Ons twee is toegewyd daaraan om die grond by die skool te regenereer, om vir die kinders gesonde, voedingstofdigte kos te bring."
"Ons werk hand-aan-hand met die natuur om biodiversiteit te herstel en bogrond te bou, en diversiteit in die tuinruimte te bring. Ons sal graag wil hê dat die Oudtshoorn-gemeenskap by ons aansluit in ons missie en ons help om die dieet van die kinders in ons gemeenskappe terug te verander na vars gifvrye kos. Ek glo dat ons gesondheid ons rykdom is, en ons word wat ons eet, kos kan gif wees of kos kan medisyne wees, die keuse is ons s'n."
Eybers het in 2020 saam met haar buurvrou, Celia le Roux Spensplaas op Doornkraal-plaas net buite De Rust gestig.
"Ek het die tuin vir net minder as twee jaar bestuur. Die kos wat hier gekweek is, is gebruik om die vrywilligers wat in die tuin gewerk het, te voed. Vroeg in 2023 het ek die mentor vir die skooltuin by Bongolethu in Oudtshoorn geword. Dit was so 'n sukses dat Bergsig begin vanjaar ontwikkel is."
Hulle fokus ook op die vestiging van 'n vrugteboord.
"Ons het tot dusver 35 vrugtebome by Bongolethu en 15 by Bergsig geplant met meer wat hierdie lente voorlê. Ons het Kei-appels en spekboom rondom die tuine gekweek om as heinings en kap-en-drop deklaag gebruik te word. Angela Frey help ons om ons medisinale tuin uit te brei, ons het reeds laventel, geneesblaarbos, kankerbos, suurlemoenbalsem, roosmaryn, turksvy, aloe vera, tulsi basiliekruid, pietersielie en tiemie as medisinale plante. Dit is my droom om soortgelyke tuine by die skole in De Rust te vestig, ons sal finansiering nodig hê om dit te kan laat gebeur."
Die tuine vul die skoolkombuistuine twee tot drie keer per week aan. "Ons verkoop ook die organiese produkte aan die einde van elke maand by die Oudtshoorn-mark om fondse in te samel vir die tuiniers."
Absa borg beide die Bergsig, asook Bongolethu-tuine , en is ontwerp, aangelê en bestuur deur Ben Getz van Urban Harvest.
"Ons het afslag op infrastruktuur van die Oudtshoorn Koöp ontvang, wat ons gehelp het om die heining op te rig, ons is uiters dankbaar vir hul deelname. Daar was 'n paar individue wat kontant skenkings gegee het, wat altyd so welkom is."
Inwoners of sakelui wat wil betrokke raak by die projek is welkom om Eybers by
072 1918 672 te skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’