OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou met 'n plan en 'n man met groenvingers sit agter die pragtige groentetuin by Bergsig Primêr in Bridgton, Oudtshoorn.
Kathryn Eybers van Numbi Valley Permaculture is reeds geruime tyd betrokke by die skool se tuin. Buiten dat dit kinders die geleentheid bied om die waarde van tuinmaak te leer, voorsien die tuin ook groente aan die skool se kombuis om te verseker die leerders voedsame en gesonde kos, vars uit hul eie tuin ontvang.
Adrian Jonkers vertel dat daar ses maande gelede nie 'n plant in sig was nie, vandag groei alles welig. Hy het reeds vyf keer geoes. 'n Tweede tuin by Bongolethu Primêr word ook deur Eybers onderhou en groei ook welig.
Oudtshoorn Courant het 'n onderhoud met Eybers gevoer om meer uit te vind oor die opwindende projek.
Eybers is passievol om gifvrye kos, wat in harmonie met die natuur gekweek word, te oes.
"Die meeste van die kos wat vandag vir supermarkte beskikbaar is, is hoogs verwerk, en so baie chemikalieë is gebruik om dit te vervaardig. Dit het verwoestende uitwerking op ons gesondheid en die gesondheid van ons omgewing."
Hulle kweek reeds 20 jaar organiese produkte (sonder om enige chemikalieë te gebruik) op Numbi Valley, 'n permakultuurplaas buite De Rust.
"Ek wou hierdie kennis met ander in my gemeenskap deel, veral diegene wat weens finansiële beperkings dalk nie toegang tot gesonde kos het nie. Elke pouse by die skool sien ek kinders wat suiglekkers eet en spookies en flyers chips. Die bestanddele wat in hierdie skyfies gelys word, is skrikwekkend en giftig, soveel so dat die skyfies eintlik 'n lig vang met 'n vuurhoutjie.
"Dit belemmer die brein en fisiese ontwikkeling van hierdie kinders, en sal op die langtermyn veroorsaak dat vroeë siektes manifesteer. Dit is noodsaaklik dat dit aangespreek word en die beste manier waarop ek voel, is om 'n alternatief te bied, om te help om die kennis weer op te wek van hoe om ons eie kos te kweek."
Inwoners of sakelui wat wil betrokke raak by die projek is welkom om met Eybers te skakel by 072 1918 672.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’