OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van tien verdagtes, wat kort na 'n gewapende roof by die SWD Groentemark in Oudtshoorn in hegtenis geneem is, is Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof vir uitspraak tot 18 Februarie uitgestel omdat een van die drie tolke nie teenwoordig kon wees nie.
Die tien mans, waaronder 'n 17-jarige, word van roof met verswarende omstandighede en menseroof aangekla.
Die saak spruit uit die gewapende rooftog op 25 Oktober verlede jaar toe die verdagtes glo die werkers van die groentemark vasgebind en met R30 000 kontant en vyf selfone op die vlug geslaan het. Hulle is egter nog dieselfde dag aangekeer. Al die verdagtes het in hul aansoeke aangedui dat hulle onskuldig sal pleit.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, staan borgtog teen omdat die staat 'n sterk saak teen verdagtes het terwyl hul regsverteenwoordigers, adv. Benito Metembo en Brian Carelse van die Regshulpraad van mening is dit in belang van geregtigheid is dat borgtog toegestaan word.
Die saak dien voor landdros Stephanie Strydom.
LEES MEER: Borgtogsaak van 10 volgende week
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'