OUDTSHOORN NUUS - Van Reede, vroeër Laerskool Van Reede, spog nou met 'n gr. 8- en 9-klas. Hulle eerste matriekklas, tans gr. 9, sal in 2027 matrikuleer.
Johnny Bisschoff, wat reeds sedert 1999 die skoolhoof is, staan breëbors wanneer hy spog oor die skool en hoe ver hulle uitbrei.
"Ons is aanvanklik verlede jaar genader om 'n gr. 8-klas te skep omdat daar gesukkel is om al die Engelse leerders in hoërskole te akkommodeer. Ek het toe gesê dat ons nie net 'n gr. 8-klas kan hê nie en dat ons dit graag wil volhou tot die leerders in matriek is. Ons is 'n parallel-medium skool wat beteken dat ons beide Afrikaans en Engelse kinders akkommodeer en dat ons vakke in Engels ook aanbied."
Die eerste gr. 8-klas verlede jaar was 20 leerders. Hierdie jaar het 70 leerders vir gr. 8 ingeskryf.
Bisschoff sê wat vir hom belangrik is, is dat leerders in 'n veilige omgewing moet groei.
Bisschoff vertel dat die insette van die leerders oor die veranderinge by die skool vir hom belangrik was.
"Hulle is immers waaroor die skool gaan en hulle moet gemaklik wees. Ons het selfs hul insae oor die nuwe skoolklere vir die gr. 8's en 9's gevra. Meeste van ons leerders bly in Van Reede omdat die omgewing vir hulle veilig voel en omdat dit vir hulle gemaklik is. Dit is 'n skool se werk om leerders toe te rus sodat hulle 'n sukses van hulself kan maak. Nou leer ken ons meeste van ons hoërskoolleerders reeds van jongs af.
"Ons weet waar hulle sterk- en swakpunte is en ons weet dus hoe om hulle beter toe te rus vir die toekoms en ons kan hulle help om hul drome te bereik. Ons kan hul skoolloopbaan entuit saam met hulle deursien en kan ook help om die regte vakkeuses te maak omdat ons die kinders ken."
Hy sê verder dat leerders moet onthou dat nie alle suksesvolle volwassenes universiteit toe gaan nie.
"Daar is geweldig baie suksesvolle mense daar buite wat nie 'n graad het nie. Dit gaan oor deursettingsvermoë en 'n wil om beter te wil wees. Daar is niks fout met 'n diploma of hard werk vir wat jy wil bereik nie."
Rogue Roelfse wat tans in gr. 9 is, sê sy is trots om een van Van Reede se eerste gr. 8's te wees.
Sy was in gr. 2 toe sy hier begin skoolgaan het en wil graag eendag in die mediese rigting studeer.
"Ek is gemaklik hier, die skool, die leerders en die onderwysers is bekend aan my. Dit was vir my 'n maklike keuse om te bly."
Lea de Kock is tans in gr. 8 en is deel van Van Reede sedert sy in gr. R was. Sy wil graag 'n lugverkeerkontroleerder wees en sê Van Reede was haar eerste opsie omdat die skool en onderwysers vir haar bekend is. Ova Mphuthing is tans in gr. 8 en kom saam met De Kock van gr. R af in dieselfde skool.
Van Reede beskryf hy as sy tweede huis en hy weet "die skool is die pad na sukses".
Bisschoff sê hul tema van jaar is Wees Uniek, en dit is presies wat hy al die leerders van Van Reede wil leer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’