OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-kliniek gaan voortaan maandeliks gratis borsondersoeke van 08:30 tot 12:00 doen. Die program word aangebied in samewerking met Badisa en Eljada-nasorgsentrum.
Borsondersoeke verbeter die kanse om borskanker reeds vroeg te vind. Die voorkoms van borskanker onder Suid-Afrikaanse vroue neem toe en dit is een van die mees algemene kankers onder vroue in Suid-Afrika.
Alhoewel dit hoofsaaklik vrouens raak, kan dit soms ook mans raak. Die vroeë opsporing van borskanker is een van die belangrikste ondernemings om die siekte suksesvol te behandel.
Borskanker is 'n ongekontroleerde groei van selle in die borsklier wat die vermoë het om na ander dele van die liggaam via die bloedstroom of die limfstelsel te versprei. Die belangrikste aspek om te verstaan is egter dat voorloper letsels van borskanker vir so lank as 10 tot 15 jaar voordat 'n kanker ontwikkel in die bors teenwoordig kan wees.
Borsgesondheid-bestuursprogram
Vroue, van so jonk as 20, behoort 'n borsgesondheid-bestuurprogram te hê om die beste moontlikheid vir vroeë opsporing te verseker. Terwyl daar nie voorkoming van borskanker bestaan nie, is dit meer waarskynlik om in vroue voor te kom wat:
• 'n Familiegeskiedenis van borskanker het.
• Geen kinders gehad het nie of wat kinders laat gekry het (bo 25 jaar).
• Nie geborsvoed het nie.
• 'n Vroeë eerste menstruasie gehad het en 'n laat menopouse.
• Alkohol misbruik.
• 'n Onaktiewe lewenswyse het.
• Oorgewig is.
• Op hormoonvervangingsterapie is.
Vroue vanaf die ouderdom van 20 tot 39 behoort hulle familiegeskiedenis van borskanker te ken, 'n kliniese borsondersoek elke drie jaar deur ’n professionele gesondheid¬sorgkundige te skeduleer en selfondersoeke maandeliks te doen. Vroue oor 40 behoort kennis te neem van die nuutste vooruitgang in borskankerbehandelings en -tegnologieë; behoort 'n jaarlikse mammogram te laat doen; te reël vir ’n kliniese borsondersoek elke jaar en moet selfondersoeke maandeliks doen.
'n Drie-stap benadering tot borsgesondheid is nodig en dit sluit in:
1. Borsselfondersoek: Ondersoek jou borste een week nadat jou maandstonde geëindig het. Dit is maklik om te doen en neem slegs ’n paar minute. Op hierdie manier sal jy enige verandering in jou borste makliker kan waarneem.
2. Kliniese borsondersoek: ’n Borsgesondheidskundige sal jou borste ondersoek en kan ook ’n behoorlike tegniek vir borsselfondersoeke demonstreer.
3. Mammografie: 'n Mammogram is 'n lae dosis X-straal van jou borste, dit kan vele borsveranderings waarneem wat te klein of te diep is om te voel. Dit is die belangrikste aspek om kanse van vroeë opsporing te verhoog.
Wat is die simptome?
Jy behoort uit te kyk vir die volgende simptome gedurende jou borsgesondheids-bestuursregime:
• Knoppe van enige grootte of verdikking van die borsweefsel.
• Veranderings in die vorm van die bors of aanhoudende ongerief.
• 'n Afskeiding uit die tepel wat nie met swangerskap of borsvoeding geassosieer kan word nie.
Dit is belangrik om te verstaan dat 'n knop nie noodwendig beteken dat jy kanker het nie. Goedaardige knoppe kom algemeen in jong vroue voor, maar indien 'n knop gevind word, moet 'n naaldbiopsie gedoen word om die moontlikheid van kanker in vroue onder 35 uit te sluit. Vir vroue ouer as 35 sal 'n mammogram, ultraklanktoets en 'n naaldbiopsie gedoen word.
Gratis borsondersoek datums
• 14 Maart - borsondersoeke en selfbewusmakingoggend.
• 25 April - borsondersoeke.
• 9 Mei - borsondersoeke.
• 27 Junie - borsondersoeke.
• 18 Julie - borsondersoeke en Mandeladag
• 8 Augustus - borsondersoeke en nasionale vrouedagvieringe
• 5 September - borsondersoeke en Loslitdagvieringe
• 10 Oktober - borsondersoeke.
• 31 Oktober - borsondersoeke.
• 21 November - borsondersoeke.
• 28 November - mansgesondheidsdag.
Vir meer inligting kan Adri Odendaal gekontak word by 072 1330 444.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’