OUDTSHOORN NUUS - Met besoek aan die Oudtshoorn Metodiste-begraafplaas het die vraag ontstaan of respek vir die laaste plek van rus en eerbetoon aan gestorwenes vandag heeltemal ontbreek?
Volgens inligting lyk heelwat begraafplase in die dorp so, vullis word oral gestrooi en talle grafte is geskend en grafstene gebreek. Dit is 'n seeroog van totale verwaarlosing.
Die toestand van die Metodiste-begraafplaas is skokkend, kommerwekkend en hartseer terwyl vandalisme mens dwars in die krop steek.
Dat grafstene wat doelloos en sonder rede platgestoot en gebreek word, is 'n groot bekommernis. 'n Groot aantal grafte is reeds beskadig.
Wie is verantwoordelik
Die versorging en onderhoud van 'n graf is egter die verantwoordelikheid van die betrokke gestorwe persoon se naasbestaandes.
Ou begraafplase is voorheen deur die verskillende kerke direk hanteer en bestuur aangesien begraafplase in die verlede onder kerke opgedeel was. Volgens die munisipale bywet oor begraafplase mag die munisipaliteit enige tyd plantegroei snoei of uithaal indien dit onooglik raak.
Die munisipaliteit mag ook teen 'n gegewe fooi omsien na 'n graf vir 'n tydperk soos ooreengekom tussen die munisipaliteit en die familie aan wie die graf behoort.
Koste van grafsteen
Die kostes om 'n gewone grootte grafsteen te vervang is baie duur. In gesprek met 'n plaaslike begrafnisondernemer noem hy dat 'n doodeenvoudige grafsteen tot R10 000 en meer kos, afhangende van die spesifikasies en voorkeure.
Volgens hom is dit 'n algemene probleem wat dringend aandag nodig het. "Ek is juis besig met so 'n geval van 'n grafsteen wat vervang moet word weens vandalisme."
Munisispaliteit se kommentaar
Oudtshoorn Courant het reeds verskeie stories gedoen oor die toestand van die begraafplase in Oudtshoorn.
'n Navraag is aan Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur rakende die munisipaliteit se verantwoordelikhede as dit kom by die instandhouding van begraafplase. Teen druktyd is kommentaar nog nie ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’