PRINS ALBERT NUUS - Sy het haar eerste boek gelees toe sy slegs sewe jaar oud was en sedertdien lees sy elke dag.
So vertel Chandré Vister (14), die leerder van Hoërskool Zwartberg in Prins Albert, wat as die nasionale gr. 8-wenner in vanjaar se WOW-spelfees aangewys is.
Chandré het eers as die wenner in die onderwyskring sowel as in die Eden-Sentraal Karoo-distrik uitgestap waarna sy ook die provinsiale kompetisie in Wellington gewen het. Voorverlede week het sy haar plek as die gr. 8 nasionale wenner in Stellenbosch oopgespel.
Volgens haar klas- en Afrikaans-onderwyser, Anvor Booysen, is Chandré uiters pligsgetrou en toegewyd aan elke faset van haar skoolwerk. Met die skool se prysuitdeling verlede week het sy die skool se ambassadeursprys ontvang vir die wyse waarop sy die skool se naam na buite uitdra.
"Sy is stil en gebruik elke geleentheid om te lees. Sy moes nie net die 800 woorde wat vir die gr. 8-kompetisie voorgeskryf was, baasraak nie, maar moes ook die 900 en 1 000 woorde vir gr. 9 en 10 leer omdat van daardie woorde ook gevra is om 'n wenner te bepaal."
Chandré sê dit was vir haar 'n spesiale ervaring om in Wellington en Stellenbosch mee te ding. Sy is baie gretig om volgende jaar weer deel te neem.
"Die kompetisie is baie straf en mens se senuwees raak nogal erg, maar ek werk hard en maak seker ek ken my woorde." Sy sê sy word in 'n huis groot waar daar graag gelees word en waar daar 'n boekrak vol boeke is. "As mens baie lees, spel jy ook baie beter."
Behalwe dat sy die trofee as nasionale wenner omhoog kan hou het sy ook 'n selfoon, woordeboek, taalspeletjie en 'n kontantprys gewen.
Diana Koorts, van Laerskool Prins Albert wat die leerders afrig vir die kompetisie en ook vir vier nasionale laerskool-wenners gesorg het sê Chandré is 'n ongelooflik gefokusde leerder.
"Dit was vir my 'n absolute voorreg om haar te help. Dit is 'n uitmuntende prestasie om goud te wen op kring-, distriks-, provinsiale- en nasionale vlak. Ek is uiters trots op haar."
Chandré se raad aan leerders wat graag soos sy sal wil spel, is eenvoudig: "Lees elke dag en lees met aandag, dan raak jou woordeskat groter en jou spelling raak beter."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’