OUDTSHOORN NUUS - Ansie Booyzen (70) se geloof, vasberadenheid en hoop vat aan mens se hartskamers. Sy was een van duisende atlete wat verlede Saterdag aan die Optimum Meiringspoort 12.5 km deelgeneem het. Dit is egter nie haar enigste een nie - haar groot marathon is die kankerstryd wat sy voer. Sy is 'n fase 4-kankerlyer en het saam met haar dogter, Rozahn Uys, die 12.5 km in 'n tyd van 03:39:30 voltooi.
Uys sê hierdie is 'n groot jaar vir beide haar ouers, Ansie en André. Hul het nog twee kinders, Chandré de Bruyn en André Boozen.
"Beide het hierdie jaar 70 jaar oud geword, en is ook 50 jaar getroud, werklikwaar mekaar se beter helfte. My hart klop uit pure dankbaarheid as ek daaraan dink, en die smile op my gesig raak al groter! Ek is in oorvloed geseënd met die beste ouers en bladsye vol stories wat ek kan vertel oor die tweetjies van my."
God se genade is genoeg
In Junie 2016 ontvang sy 'n oproep wat haar lewe onherroeplik verander het. "My mamma is met fase 4-eierstokkanker gediagnoseer. My oggend en aandpraatjies het verander in 24/7 gebede, want die Here weet, ek sal nooit reg wees wanneer Hy haar wil kom haal nie."
Sy vertel die eerste gewas was die grootte van 'n bofbal. "Maar my ma se geloof is mos groter. Daar was 'n tweede gewas van amper dieselfde grootte. Na 'n hele paar operasies en chemoterapiesessies, is my mamma genadiglik nog met ons."
Sy sê altyd: "Ek gaan nêrens nie vlooi, ek het nog te veel om voor te lewe! Natuurlik, as dit die Here se wil is."
In Desember 2022 tree haar ouers af in Heroldsbaai. "Die treklorrie is gepak en op pad! Ons het almal reggemaak om bokse uit te pak, toe gee die trok se brieke in en daar is al hulle lewenslange goedjies wat hulle bymekaar gemaak het daarmee heen. Enige regdenkende mens sal wonder wat nóú nog?"
Skokdiagnose
In Desember 2022 merk sy haar ma begin swaar loop. In Januarie 2023 word sy gediagnoseer met Dermatomyositis, 'n seldsame toestand wat jou vel en spiere aantas en erg beïnvloed, soveel so dat sy net begin val het. Uys vertel haar ma kon later nie meer loop nie, en haar laaste bietjie hare het ook uitgeval.
Ansie het gesukkel om te sluk en het begin verstik en het later buisvoeding ontvang.
Na maande lange behandeling deur neuroloog, dr. André Leonard by Life Bay View-hospitaal word sy op 6 Junie 2023 ontslaan. "Sy kan weer loop, sy kan weer eet, Dankie Here!" Maar op 4 Oktober 2023 is daar weer 'n terugslag nadat haar chemoterapie-port septies geraak het.
Challenge accepted!
Sy vertel dat Leonard haar van die Meiringspoort-halfmarathon vertel het. "Die twee begin toe spot dat sy hom gaan challenge en toe ons weer sien toe skryf sy in om deel te neem aan die 12.5 km. Challenge accepted. Haar attitude is so positief, haar geloof is onblusbaar, en haar support structure rock solid! Sy het net gesê, ek gaan dit doen, ek gaan elke tree gee ter ere van ons Almagtige Heer. Alle eer kom ons Vader toe. Hy het haar gebless met genade-genesing, meer tyd saam almal vir wie sy so ongelooflik lief is, en ons is dankbaar daarvoor! As dit die Here se wil is, sal ek en my mamma die poort volgende jaar weer, hand aan hand loop."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’