Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Twee werknemers van Rainbow Motors, die Engen-vulstasie op die George-pad, het Maandagoggend 'n traumatiese ervaring gehad toe hulle met 'n vuurwapen aangehou en beroof is.
Volgens een van die werknemers het hy omstreeks 01:15 by die deur van die vulstasie se deurnagwinkel 'Die Naguil' gestaan toe hy 'n groep mans na die vulstasie sien aanstap.
"Iets het vir my gesê daar kom moeilikheid en ons het die winkel se deure toegemaak en ek het die panic button in my sak gedruk," het hy Maandag gesê.
Volgens hom wou die vyf mans by die winkel inkom, maar hy en sy kollega het verduidelik dat die mans by die klein betaalvenster moet bestel wat hulle wou koop.
"Terwyl ons met een by die venster gepraat het, het die ander die deur oopforseer en ingekom en dis toe dat ek sien een het 'n vuurwapen. Ek het baie groot geskrik, want hy het die vuurwapen op my gerig en een van die ander het gesê 'skiet hom'. Ek het net probeer kalm bly."
Van die ander rowers het kapmesse by hulle gehad. Hulle het die twee werknemers beveel om die kasregister oop te maak en hulle toe op die vloer laat sit en hulle hande vasgebind. Die mans het die kontant uit die kasregister sowel as 'n aantal los items en die twee werknemers se selfone gevat en in die rigting van die stasie weggehardloop.
In reaksie op die noodknoppie wat die werknemer gedruk het, het 'n voertuig van die sekerheidsfirma opgedaag. Die twee werknemers kon daarin slaag om hulle hande los te woel en het die polisie verwittig.
Die hele voorval is op kameras in die winkel vasgelê en op Oudtshoorn Crime Watch se Facebook-blad geplaas.
Kyk die video hieronder:
Die eienares van Rainbow Motors, Valerie van der Walt, het gesê haar heel eerste reaksie was dankbaarheid dat haar werkers ongedeerd is. Volgens haar het die rowers nie 'n groot bedrag geld gesteel nie. "Ons het 'n drop safe en die manne weet om gereeld die kontant daarin te sit. Hulle het juis 'n ruk voor die rooftog geld in die kluis laat val."
Sy sê sy kan nie verstaan hoekom die rowers nie net gevat het wat hulle wou hê nie. "Hulle het goed stukkend geslaan en ook alles vol melk gegooi, want dit vat glo vingerafdrukke weg."
Met die Oudtshoorn Courant se besoek aan die vulstasie was werknemers juis besig om die winkel op te ruim. Van der Walt sê die vorige voorval waar haar besigheid beroof was, was meer as twintig jaar gelede. "Maar toe was ek hier en ek is aangehou."
Skermgrepe van videos waarop die verdagtes en die vasgebinde werknemers gesien kan word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'