OUDTSHOORN NUUS - Dr. Wessel Vermeulen, een van Oudtshoorn se bekendste en mees gerespekteerde artse, sê hy is verstom met die oorvloed van boodskappe wat hy na sy toekenning van SAMA (Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging) ontvang het.
Vermeulen is Saterdagaand, 23 Mei, tydens 'n spoggeleentheid by die Elangeni & Maharani Hotel in Durban met die SAMA Award of the Year for Contribution to Excellence in Medicine, Leadership, Loyalty and Service, vereer.
Hierdie SAMA-toekenning vereer dokters en gesondheidswerkers vir hulle leierskap, diens, toewyding en bydraes tot die mediese professie en hul gemeenskappe.
Die toekenning word nie lukraak gemaak nie, maar aan die hand van verskeie kriteria soos 'n rekord van jare lange uitnemendheid, mediese navorsing, akademiese bydraes en gemeenskapsbetrokkenheid om slegs enkeles te noem.
Vermeulen se mediese kennis, insig en oordeel was tydens die Covid 19-pandemie van onskatbare waarde vir die media waar hy dag en nag beskikbaar was om vrae te beantwoord en die oorvloed van fopnuus uit te wys en met korrekte inligting reggestel het.
Oudtshoorn Courant het Maandag met Vermeulen gesels terwyl hy nog in Durban aan vier dae se lesings en besprekings deelneem wat onder andere handel oor die nasionale gesondheidsbeleid, die rol van KI in die mediese toekoms en elektroniese rekordhouding.
Sy eerste reaksie was: "Ek sit in Durban en kan nie glo hoe vinnig die nuus versprei nie. Ek hou mos nie daarvan om na 'gekyk' te word nie, maar kollegas van letterlik oor die hele wêreld en die hele land het my gekontak en gesê hulle het die effek van my werk ten opsigte van beskerming, leiding en visie vir ons professie beleef. En dan was daar soveel gelukwense uit die Suid-Kaap en Oudtshoorn en vanaf die skole waarby ek betrokke was. Dit laat mens klein en nederig voel."
Begin van praktyk
Vermeulen het in Junie 1979 in Oudtshoorn as bevelvoerder van die destydse Mediese Eenheid, Suid-Kaap, begin en sy eie praktyk in 1981 gestig. Sedertdien het hy oor die afgelope 45 jaar derduisende pasiënte behandel, akademiese navorsing gedoen en hy skryf steeds gereelde artikels vir die SAMA-tydskrif, Insight, wat op jong dokters fokus.
Wat hom egter net so na aan die hart lê as die mediese professie, is sy betrokkenheid by skole en veral by leerders wat nie altyd toegang tot alle geleenthede het nie.
Betrokke by skole
Hy was vir meer as 20 jaar voorsitter van die beheerliggaam van Laerskool Wesbank en Hoërskool Oudtshoorn. Hy is ook steeds aktief betrokke by die identifisering van jong sportlui by veral agtergeblewe skole.
Toekoms van mediese sorg in SA
Oor die vraag hoe hy die toekoms van mediese sorg in Suid-Afrika sien, het Vermeulen gesê die nasionale gesondheidsbeleid wat die regering beplan, is 'n geweldige groot uitdaging. "My opinie is dat mens nie 'n toring van die dak af grond toe bou nie. Jy bou eers 'n fondament, kry alles perfek, lei personeel op, en as jy geld het bou jy verder, stap-vir-stap. Mens kan nie soos die politici vir aansien bo wil begin, en dan ondertoe bou nie, dit werk nie so nie."
Sy raad vir 'n gesonde leefstyl onder mense is eenvoudig: "Pas jou liggaam op, eet reg en uiters belangrik - geniet die lewe."
Op die vraag of hy enige raad vir jong dokters het, het hy gesê:
"Jong dokters moet betrokke raak by hul toekoms. Hulle kry steeds goeie opleiding in Suid-Afrika. Jou eerste doelwit is om soveel vaardighede te leer as wat jy kan om 'n goeie algemene paktisyn te wees. Dis 'n voorreg om 'n dokter te wees, benut jou kanse!"
Hy het ook daarop gewys dat SAMA met 21 000 lede 'n kritieke en onontbeerlike rol in die mediese professie in die land speel. Hy is reeds sedert 1974 by dié vereniging betrokke en was vir bykans 30 jaar die voorsitter van die Suid-Kaap-streek.
VIDEO:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’