OUDTSHOORN NUUS - Die familie- en gesinsgeweld-eenheid in Oudtshoorn het hierdie maand 22 jaar van toegewyde diens aan die gemeenskap gevier.
Die eenheid, wat op 1 Oktober 2003 amptelik geopen is, speel sedertdien 'n sleutelrol in die ondersoek en vervolging van sake wat verband hou met gesinsgeweld, verkragting, seksuele misdrywe en kinderbeskerming.
Die eenheid bestaan tans uit nege ondersoekbeamptes en een forensiese maatskaplike werker. Drie van die ondersoekbeamptes, ao. Fanie le Roux (waarnemende stasiebevelvoerder), ao. Anton Kock en ao. Wanita Uys, is steeds deel van die oorspronklike span wat die eenheid in 2003 help stig het.
Merkwaardige vonnisse
In September 2025 alleen het die eenheid gesamentlik 146 jaar gevangenisstraf vir oortreders van ernstige misdade verseker.
Dit sluit in 60 jaar vir verkragting, 15 jaar vir poging tot verkragting, 31 jaar vir seksuele aanranding, 40 jaar vir aanranding met die doel om ernstig te beseer binne 'n gesinsverband, asook ses maande vir kinderverwaarlosing.
Volgens Le Roux word hierdie suksesse toegeskryf aan deeglike ondersoekwerk en noue samewerking met bekwame aanklaers in die howe.
Groot uitdagings oor naweke
"Die span handhaaf 'n geweldige positiewe ingesteldheid en is daartoe verbind om 'n verskil in die gemeenskap te maak. Oor naweke word daar baie sake geregistreer, maar word kort daarna deur klaagsters teruggetrek.
"Ons sien 'n toename in hierdie soort sake, veral oor naweke en gedurende die somer- en feestyd," verduidelik Le Roux. "Alkoholmisbruik speel 'n groot rol in hierdie voorvalle."
Hy doen 'n beroep op vroue om verant-woordelik te drink, nie alleen rond te beweeg nie en nie mense blindelings te vertrou nie, aangesien die meeste verdagtes aan hul slagoffers bekend is.
"Ons is hier om mense te beskerm en geregtigheid te laat seëvier. Elke suksesvolle skuldigbevinding wys dat deeglike ondersoekwerk 'n verskil maak."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’